Dominee Dawie en die Loftus-uitjouery

Dawie De VilliersDit was nou nie een van die mees aangename ervarings vir ‘n jong seun om op ’n snikhete Sondagoggend, getooi in ʼn pak klere met ʼn das wat jou nek wurg, byna twee uur lank in die Pretoria Oos-kerk deur te bring nie.

Jy wou eerder dryfinkies of krieket speel, maar sport was taboe op Sondae, want jy moes saam met Pa en Ma kerk toe – en dan nog die Sondagskool- of katkisasieklas bywoon om aan die einde van die jaar nog ʼn seël op ʼn sertifikaat te kry – wat jy soos ʼn kleinnood bewaar het.

Een van my destydse Sondagskoolonderwysers was Willem Nicol, wat toe in matriek was aan die Afrikaanse Hoër Seunskool oorkant die kerk, én Loftus Versfeld.

Nicol was een van my helde, want hy was een van Affies se beste langafstandatlete en soms het ons eerder oor Frik, Piet en Mof as oor die Heidelbergse Kategismus gesels.

“Klas,” het hy een Sondagoggend gesê, “ons is almal aanstaande Sondag vroeg in die kerk, want dominee Dawie kom preek.”

Hy het verwys na Dawie de Villiers, die destydse Springbokkaptein, wat pas afgestudeer het. Dit sou sy eerste preek in Pretoria gewees het, so tussendeur die Westelike Provinsie, Noord-Transvaal, die Boland, Franse, Britse Leeus en All Blacks deur.

Die kerk was stampvol. Tonie Roux (die veelsydige Springbokagterspeler) het net skuins voor ons gesit en langs hom tant Anna (prof. Anna Neethling-Pohl), wat elke Saterdag getrou op Loftus was om haar gunsteling-Tukkies te ondersteun.

Dominee Dawie se preek was ’n teleurstelling vir my, want soos ʼn jong seun se kop werk, wou ek meer van sy rugbyloopbaan gehoor het.

Jare ná sy preek het ek getob en geworstel oor die uitjouery in 1968 op Loftus, toe ons “Uys! Uys! Uys!” geskree het, want ons wou eerder vir Piet Uys bó hom in die Springbokspan gehad het.

Tot eergister, toe ek deur sy outobiografie, wat pas verskyn het, geblaai het.

Daarin verwys hy na die swartste dag van sy lewe.

Ai, Dominee Dawie, hoekom het ek nie 50 jaar gelede geweet nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

willie ·

ja later in die politiek en minister geword in die Nasionale Regering! wat ek graag verder sou wou sê sal in elkgeval nie geplaas word nie dus swyg ek maar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.