Dominikane wen ver in herskikte RAN-reeks

Die Dominikaanse Republiek het Saterdag die eerste wedstryd in Rugby Amerikas-Noord (RAN) se herskikte Trofeereeks in Willemstad, Curaçao, gewen.

Die Curacaoërs het die knie met 17-45 voor die Dominikane gebuig.

Eersgenoemde val onder die Nederlandse Antille, geleë net noord van Venezuela, en is ʼn selfbesturende deel van Nederland; laasgenoemde deel die Karibiese eiland Hispaniola met Haïti.

Die ander deelnemer aan die reeks om die RAN-trofee is Guadeloupe, ʼn Franse buitelandse departement.

RAN, die gewestelike beheerliggaam, het sy reekse vanjaar ingrypend herskik.

Amerika en Kanada speel steeds saan met die Suid-Amerikaanse lande Argentinië (sy naasbeste span), Brasilië, Chili en Uruguay in die Amerikaanse Rugbykampioenskap (ARK).

Guyana en Meksiko sal van vanjaar af saam met Colombia en Paraguay aan die nuwe tussenvastelandse Amerikas-rugbyuitdaagreeks (ARU) deelneem.

Die RAN-kampioenskap is die senior gewestelike reeks. Bermuda, die Kaaimanseilande, Trinidad & Tobago en die Panthers van Amerika se suidelike deelstate (waar rugby minder ontwikkel is as in die res) spook sake om dié titel uit.

Op die volgende vlak pak Barbados en Jamaika mekaar om die RAN-beker, en die RAN-trofee dek die laagste mededingende vlak.

Verskeie eilande wat in die verlede aan die RAN-reekse deelgeneem het – soos die Turks- & Caicos-eilande, die Britse Maagde-eilande, St. Vincent en die Grenadines, en St. Lucia – speel vanjaar slegs op vriendskaplike voet teen mekaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.