Doodsklok lui vir ʼn roemryke SA rugbytradisie

Geld, het die wêreldwyd gerespekteerde doyen van Suid-Afrikaanse rugbybase en bittereinder-amateur, Danie Craven, voorspel, sal die gees en aard van rugby wesenlik en onherroeplik verander.

Dat hy volkome reg was, is lankal nie meer oor te redeneer nie.

Nou lyk dit of een van Suid-Afrika se oudste en roemrykste rugbytradisies die volgende offer op die altaar van die geldgod sal wees.

Ja, die doodsklok is aan ʼt lui vir die Curriebeker.

Die reeks wat eens op ʼn tyd bekend was vir die meedoënlose mededinging wat dit opgelewer het, het in die jongste jare toenemend verwater, veral vanweë die groot getalle topspelers wat deur geld oorsee gelok is.

Luidens berigte is daar reeds vanjaar kort duskant 50 Suid-Afrikaanse Superrugbyspelers wat nie vir die Curriebekerreeks beskikbaar is nie. Dis die sterkte van sowat een en ʼn halwe franchise.

Verwater

Nou gaan twee gewese Superrugbyfranchise’e, die Cheetahs en die Kings, aan die Europese Pro14-reeks deelneem, terwyl die Curriebekerreeks aan die gang is.

Natuurlik gaan die beste stuk of sestig spelers waarop die twee franchise’e hul hande kan lê oorsee speel – insluitende die groep wat tans die Cheetas in die Curriebeker verteenwoordig. Skielik is die oorskiet “Curriebekermateriaal”.

Die Curriebekerreeks word verder verwater – terwyl die Pro14-base gierig hul hande vryf vir die groter sny aan die TV-geldkoek wat hul deel word.

Dit was uit die staanspoor enersyds ʼn misplaaste en ondeurdagte politieke besluit, en andersyds die hebsug en megalomanie van Sanzaar se base wat nie die glans van ʼn wêreldwye geldryk kon weerstaan nie, wat permanensie aan die glorielose Kings verleen het. Pleks hulle het eers hul spore in die Curriebekerreeks probeer verdien.

Eintlike probleem

ʼn Gebrek aan diepte, en die gevolglike swakker mededingendheid – vir Suid-Afrikaanse rugby as sulks – is dan juis die primêre rede vir die uitvaart van die twee spanne uit die Superrugbyreeks. Anders gestel, ʼn gebrek aan diepte is die grondliggende probleem.

Probeer die rugbybybase enigiets doen om dié probleem uit die weg te ruim?

Nee, en as ʼn mens die gerugte moet glo, stel Mark Alexander hom ten doel om 12 Suid-Afrikaanse spanne in oorsese reekse te laat speel.

Hoekom? In watter ander reekse as die Pro14? Watter 12 spanne? Gaan van die bestaande bonde dalk saamsmelt?

ʼn Mens kan nie help om te wonder of die rugbybase die aard van die probleem snap nie. Dit lyk alte veel of hulle eerder agter wedstryde oorsee aan wil rondjakker, terwyl die ondersteuners droëbek tuis sit.

Ingrypende kentering

Sou die oplossing vir die probleem (diepte) nie dalk daarin kon lê om skaars bronne plaaslik (in die Curriebekerreeks) so gekonsentreerd as moontlik (krag teen krag) aan te wend nie?

Hoeveel insig, versiendheid en veral skeppende denke kan ʼn mens in hierdie opsig van die SA rugbybase verwag?

Is dit nie maar dieselfde mense wat die een ná die ander bond (tot dusver al Grens, SWD, die OP en die WP) oor die finansiële afgrond bestuur het, in wie se hande die heil van Suid-Afrikaanse rugby opgesluit lê nie?

Tensy daar ʼn ingrypende kentering plaasvind, is dit te laat om die Curriebeker te red.

Soos Gracie Fields in die Tweede Wêreldoorlog die vertrekkende soldate toegesing het: “Wish me luck when you wave me goodbye.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hannelie Olivier

Stem regtig nie saam met hierdie berig nie. Na die 0.21 curriecupkompetisie is daar bitter min speelplek vir jong spelers (22 -24 jaar oud). Die vodacom cup is weg. Hierdie jong klomp sien vreeslik daarna uit om Currie cup te speel en doen dit met oorgawe. Kyk na Justin Phillips, Ox Nche, Joseph Dweba, Reinach Venter, Gert Johann Kotze, en so kan ek aangaan….

Jannie Louw

Ek sal graag van die skrywer van die berig wil ń voorstel ontvang oor hoe hy reken die effek van internasionale kragte bestuur moet word. Kritiek is een ding en ook soms geregverdig. Die vind van oplossings is egter ń ander uitdaging. Selfs by ń unie soos Griekwas reken ons dat daar in die Noordelike en Suidelike Halfrond deur SA gekompeteer moet word.

Callie

So 4 jaar terug het iemand die stelling gemaak dat rugby sodanig sal verswak dat die sport in SA sal tot niet gaan. Ek het gelag. Nou, die jaar het ek besef ekself doen geen moeite om eers meer na n game op tv te kyk nie, wat staan nog stadion toe te gaan. Ons geslag het van Pretoria na Bloem of Durban gery om te gaan kyk. Dis verby. Hoekom is paviljoene leeg. Die eidstryd nou was eerste keer die jaar wat pviljoen vol was. Daar kort n wonderwerk en jammer, kwotas moet verdwyn

Henk Stander

Piet, jy slaan al die spykers sommer so eenmaal senter mr Venter. Dis net jammee, die rugby Jan-alle-man sien dit nie so nie. Ek hoop jy skryf weer in Maroela ek sal jou opinies graag weer wil hoor.

Groete.

Frans C

Die Curriebeker was altyd ‘n toonvenster van krag teen krag.Met die koms van Superrugby het dinge totaal verander.Kyk na gister se fiasko.Terwyl die Leeus dit nog steeds uitspook in die Super 18 reeks,span spanne wat uitgeval het feitlik onveranderde superrugbyspanne in in die Curriebeker en behaal soos die Cheetahs verlede jaar en Blou Bulle tans groot oorwinnings. Maar dat dit niks beteken nie is duidelik uit die feit dat die huidige Curriebekerkampioen, onseromonieel uit die Super rugby kompetisie geskop is waar hul 13 ge-eindig het.Hulle was egter bo die Bulls,Reds,Waratahs en Sunwolwes,wat in die kompetisie behou is. Netso is die… Lees meer »