Doodsklok lui vir ʼn roemryke SA rugbytradisie

Geld, het die wêreldwyd gerespekteerde doyen van Suid-Afrikaanse rugbybase en bittereinder-amateur, Danie Craven, voorspel, sal die gees en aard van rugby wesenlik en onherroeplik verander.

Dat hy volkome reg was, is lankal nie meer oor te redeneer nie.

Nou lyk dit of een van Suid-Afrika se oudste en roemrykste rugbytradisies die volgende offer op die altaar van die geldgod sal wees.

Ja, die doodsklok is aan ʼt lui vir die Curriebeker.

Die reeks wat eens op ʼn tyd bekend was vir die meedoënlose mededinging wat dit opgelewer het, het in die jongste jare toenemend verwater, veral vanweë die groot getalle topspelers wat deur geld oorsee gelok is.

Luidens berigte is daar reeds vanjaar kort duskant 50 Suid-Afrikaanse Superrugbyspelers wat nie vir die Curriebekerreeks beskikbaar is nie. Dis die sterkte van sowat een en ʼn halwe franchise.

Verwater

Nou gaan twee gewese Superrugbyfranchise’e, die Cheetahs en die Kings, aan die Europese Pro14-reeks deelneem, terwyl die Curriebekerreeks aan die gang is.

Natuurlik gaan die beste stuk of sestig spelers waarop die twee franchise’e hul hande kan lê oorsee speel – insluitende die groep wat tans die Cheetas in die Curriebeker verteenwoordig. Skielik is die oorskiet “Curriebekermateriaal”.

Die Curriebekerreeks word verder verwater – terwyl die Pro14-base gierig hul hande vryf vir die groter sny aan die TV-geldkoek wat hul deel word.

Dit was uit die staanspoor enersyds ʼn misplaaste en ondeurdagte politieke besluit, en andersyds die hebsug en megalomanie van Sanzaar se base wat nie die glans van ʼn wêreldwye geldryk kon weerstaan nie, wat permanensie aan die glorielose Kings verleen het. Pleks hulle het eers hul spore in die Curriebekerreeks probeer verdien.

Eintlike probleem

ʼn Gebrek aan diepte, en die gevolglike swakker mededingendheid – vir Suid-Afrikaanse rugby as sulks – is dan juis die primêre rede vir die uitvaart van die twee spanne uit die Superrugbyreeks. Anders gestel, ʼn gebrek aan diepte is die grondliggende probleem.

Probeer die rugbybybase enigiets doen om dié probleem uit die weg te ruim?

Nee, en as ʼn mens die gerugte moet glo, stel Mark Alexander hom ten doel om 12 Suid-Afrikaanse spanne in oorsese reekse te laat speel.

Hoekom? In watter ander reekse as die Pro14? Watter 12 spanne? Gaan van die bestaande bonde dalk saamsmelt?

ʼn Mens kan nie help om te wonder of die rugbybase die aard van die probleem snap nie. Dit lyk alte veel of hulle eerder agter wedstryde oorsee aan wil rondjakker, terwyl die ondersteuners droëbek tuis sit.

Ingrypende kentering

Sou die oplossing vir die probleem (diepte) nie dalk daarin kon lê om skaars bronne plaaslik (in die Curriebekerreeks) so gekonsentreerd as moontlik (krag teen krag) aan te wend nie?

Hoeveel insig, versiendheid en veral skeppende denke kan ʼn mens in hierdie opsig van die SA rugbybase verwag?

Is dit nie maar dieselfde mense wat die een ná die ander bond (tot dusver al Grens, SWD, die OP en die WP) oor die finansiële afgrond bestuur het, in wie se hande die heil van Suid-Afrikaanse rugby opgesluit lê nie?

Tensy daar ʼn ingrypende kentering plaasvind, is dit te laat om die Curriebeker te red.

Soos Gracie Fields in die Tweede Wêreldoorlog die vertrekkende soldate toegesing het: “Wish me luck when you wave me goodbye.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hannelie Olivier ·

Stem regtig nie saam met hierdie berig nie. Na die 0.21 curriecupkompetisie is daar bitter min speelplek vir jong spelers (22 -24 jaar oud). Die vodacom cup is weg. Hierdie jong klomp sien vreeslik daarna uit om Currie cup te speel en doen dit met oorgawe. Kyk na Justin Phillips, Ox Nche, Joseph Dweba, Reinach Venter, Gert Johann Kotze, en so kan ek aangaan….

Jannie Louw ·

Ek sal graag van die skrywer van die berig wil ń voorstel ontvang oor hoe hy reken die effek van internasionale kragte bestuur moet word. Kritiek is een ding en ook soms geregverdig. Die vind van oplossings is egter ń ander uitdaging. Selfs by ń unie soos Griekwas reken ons dat daar in die Noordelike en Suidelike Halfrond deur SA gekompeteer moet word.

Callie ·

So 4 jaar terug het iemand die stelling gemaak dat rugby sodanig sal verswak dat die sport in SA sal tot niet gaan. Ek het gelag. Nou, die jaar het ek besef ekself doen geen moeite om eers meer na n game op tv te kyk nie, wat staan nog stadion toe te gaan. Ons geslag het van Pretoria na Bloem of Durban gery om te gaan kyk. Dis verby. Hoekom is paviljoene leeg. Die eidstryd nou was eerste keer die jaar wat pviljoen vol was. Daar kort n wonderwerk en jammer, kwotas moet verdwyn

Henk Stander ·

Piet, jy slaan al die spykers sommer so eenmaal senter mr Venter. Dis net jammee, die rugby Jan-alle-man sien dit nie so nie. Ek hoop jy skryf weer in Maroela ek sal jou opinies graag weer wil hoor.

Groete.

Frans C ·

Die Curriebeker was altyd ‘n toonvenster van krag teen krag.Met die koms van Superrugby
het dinge totaal verander.Kyk na gister se fiasko.Terwyl die Leeus dit nog steeds uitspook
in die Super 18 reeks,span spanne wat uitgeval het feitlik onveranderde superrugbyspanne in in die Curriebeker en behaal soos die Cheetahs verlede jaar en Blou Bulle tans groot oorwinnings.

Maar dat dit niks beteken nie is duidelik uit die feit dat die huidige Curriebekerkampioen, onseromonieel uit die Super rugby kompetisie geskop is waar hul 13 ge-eindig het.Hulle was egter bo die Bulls,Reds,Waratahs en Sunwolwes,wat in die kompetisie behou is.
Netso is die Kings wat 11de was uitgeskop.

So word Superrugby ‘n klug en word Curriebekerrugby in die gemors ingetrek en vind
daar ‘n totale verwringing van die verskillende bonde se rugbykrag plaas, omdat Curriebeker sukses nie noodwendig eindig in Superrugby sukses.

Dit moet tog kommerwekkend vir enige rugbyliefhebber wees dat NZ met veel minder
spelers die kompetisie so oorheers en nog steeds die no 1 span in die wêreld is.

Moet dit nie oorweeg word om die Curriebeker ‘n suiwer amateursport te behou wat
toegang gee tot spelers wat nog nie besluit het of hul beroepspelers wil word nie en dit aan beroepspelers oor te laat waar hul buite internasionale wedstryde ,hul beroep wil beoefen.

Of moet die aantal Superrugbyspelers per span verminder word om meer geleenthede vir
opkomende spelers te skep en die kompetisie meer gelyk maak.

Neil ·

250 woorde, dus kort sinne hier gaan ons. 1) Super 18 het nie gewerk nie, weens te veel swak spanne in die kompetisie – daarom word dit verklein na 15, Stormers teen Crusaders op Nuweland sal meer kykers op TV en daar lok as bv. Stormers teen Kings. 2) Cheetahs en Kings – indien hulle nie ‘n alternatiewe kompetisie en met ander woorde ‘n alternatiewe bron van inkomste kon kry as die Curriebeker sou hulle finansieël so verswak het dat hulle dieselfde sterkte spanne as die ander SA spanne wat nie in die Super 18 speel eventueel sou mee oor die weg moet kom. Kyk hoe het Kings rugby versterk na net twee jaar in die Super 18. Die roete wat spanne soos die Pumas en Valke moet volg is dalk ook om te kyk vir ‘n alternatiewe kompetisie. 3) Spelers wat nie voorheen geleenthede gekry het nie, sal nou ‘n geleentheid kry. Damian Willemse moes wag vir beserings aan 3 Stormers losskakels voor hy vir die Stormers kon uitdraf. Ouens gaan nou kans kry wat nie ‘n kans sou gekry het nie, want die SA rugby base en Super 15 rugbybase gaan steeds die Curriebeker dophou. 4) Die Curriebeker is wel afgewater, maar dit is nie ‘n slegte ding nie. Die Stormers/ WP gaan steeds teen mekaar speel as dit net in ‘n ander kompetisie, nl. die Super 15.

Neil ·

Klein fout in my laaste sin, Het bedoel die Stormers/ WP teen die Bulle gaan steeds gebeur of dit nou in die Super 15 of die Currie Beker is, wat maak dit saak? Ek neem aan Stormers teen Cheetahs sal gebeur in “warm up” wedstryde voor die Super 15, want daar is gewoonlik 3 sulke wedskryde. So Ja volgende jaar voor die Super 15 afskop sien ek uit na Stormers vs Cheetahs, Stormers vs Kings ens.

Frans C ·

Jy is reg- maar dan moet jy die swakste spanne uitskop en nie spanne want onderskeidelik
11de en 13de uit 18 in die kompetisie ge-eindig het.Plaaslike spanne word uitgeskop om swakker spanne te behou.Maak nie vir my sin nie,dit lyk eerder of toegewings aan Japan en Aussies gemaak word ten koste van plaaslike spanne.

Annatjie Kruger ·

As enige rugby reeks in Suid-Afrika tot niet gaan moet ook gekyk word na die prys van kaartjies vir wedstryde. Ek het nou die dag gesien dat vir ‘n wedstryd in SA die kaartjies R400 per person is. Watter Suid-Afrikaner het hierdie tipe van geld om week na week te betaal om ‘n plaaslike span te sien speel. Dit is aansienlik goedkoper om by die huis te bly en op TV te kyk as om ‘n kaartjie te koop en dan miskien ook na ‘n ander dorp/stad te reis vir die wedstryd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.