Dorings wag op NS-netbalvrou as Aussie-rugbybaas

Raelene Castle – dorings wag. (Foto: Facebook)

Dis dorings eerder as ʼn bed van rose wat op die nuwe Australiese rugbybaas, ʼn gewese Kiwi-netbalvrou, wag.

Die Australiese Rugbyunie (ARU) het vroeër verras met die aanstelling van Raelene Castle, ʼn gewese uitvoerende hoof van Netbal Nieu-Seeland, om as nuwe hoof- uitvoerende beampte by Bill Pulver oor te neem.

Australiese rugby het die afgelope vier, vyf jaar sy deel van drama en trauma beleef, en Castle, wie se pa op sy dag die Nieu-Seelandse League-span aangevoer het, stap nie by ʼn gelukkige huis in nie.

Pulver is juis een van die slagoffers van die jongste onverkwiklike storm aangaande die uitsetting van die Western Force uit Superrugby.

Castle het laat blyk dat nouer bande tussen Australiese en Nieu-Seelandse rugby hoog op haar sakelys is, maar daar wag waarskynlik heelwat veewerk voor eie deur eerdat sy verder sal kyk.

ʼn Aanduiding hiervan is die veteraan-Wallaby Jeremy Paul (72 toetse) se pleidooi, in opvolging van haar aanstelling, dat die ARU van bo tot onder skoongemaak moet word.

Castle het groot sukses met die bestuur van die arm Netbal Nieu-Seeland gehad, maar glo nie toegelaat dat tradisie in haar pad staan nie, iets wat blykbaar tot heelwat botsing met tradisionaliste gelei het.

Wat wag op die Wallabies?

ʼn Mens kan dalk ook vra wat op Suid-Afrika wag, nadat Aussie-stemme in die jongste tyd opgegaan het dat Superrugby tot Australië en Nieu-Seeland beperk moet word.

Haar standpunt hieroor moet nog vorentoe blyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Kiwis in Aussie besighede lei meestal tot traumatiese verandering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.