Dr. Craven se drome word toe waar

Ter illustrasie. Argieffoto.

Dit was een van dr. Danie Craven, die eertydse Suid-Afrikaanse rugbybaas, se brandende begeertes om ʼn toetswedstryd teen Roemenië te speel.

Maar dit was hom nooit beskore nie, want hy is op 4 Januarie 1993 oorlede, terwyl die nasionale krieketspan besig was om ʼn toetswedstryd teen Indië op Nuweland te speel.

Vergeet van die krieket, konsentreer op Dok se dood, het die dringende boodskap vanuit die koerant se nuuskantoor in Johannesburg gelui.

Maar dit was twee jaar en vier maande later voordat dr. Craven se wens bewaarheid kon word toe die Springbokke op 30 Mei 1995 op Nuweland in die Wêreldbekertoernooi teen Roemenië, bekend onder die bynaam The Oaks (Stejarii in Roemeens), te staan gekom het.

Die span se logo bestaan juis uit ʼn eikeblaar en ʼn rugbybal wat inmekaar geweef is en hul spankleure is geel truie en blou broeke.

Die afwagting vir nog ʼn keurvertoning deur die Bokke was groot, veral ná die openingswedstryd van die WB-toernooi toe die Springbokke die Wallabies met 27-18 geklop het.

Die afrigter, Kitch Christie, het ʼn kookwater-agterlyn, bestaande uit vyf spelers van Transvaal asook James Small en Brendan Venter, gekies.

Maar selfs nie eens die samespel van Gavin Johnson, Christiaan Scholtz, Pieter Hendriks, Hennie le Roux en Johan Roux kon die Springbokmasjien aan die gang kry nie.

Voorlangs het Marius Hurter, Krynauw Otto en Robbie Brink hul buigings gemaak en Adriaan Richter was die Bokke se kaptein.

Maar as ʼn skouspel het die wedstryd voor 45 000 toeskouers misluk, want Roemenië was daarop ingestel om die Bokke se besit te bederf, om dit stadig te maak, om die telling laag te hou.

Die Bokke kon net twee oorstootdrieë deur Richter druk en ewe skielik het die onweerswolke om die Bokke begin saampak, want die naasbestes kon nie dieselfde gesag as die uitsoekspan afdwing nie, is daar gesê.

Hoekom het Dok gesmag om teen Roemenië te speel?

Want hy wou rugby in Europa en veral ook in Suid-Amerika verder ontwikkel en vestig.

Roemenië was ook geen hierjy-span nie, want die spelers het oorwinnings oor Ierland, Frankryk, Wallis, Skotland en Italië behaal en hulle het die bronsmedalje op die Olimpiese Spele in 1924 gewen (bygesê, daar was net drie lande se rugbyspanne op die Spele). Hulle was in ʼn stadium vir 24 toetswedstryde onoorwonne.

Ja, die kommuniste het rugby gebruik om hul saak te bevorder en toe hulle getuimel het, was rugby (die spelers was byna almal in die weermag en polisie) byna daarmee heen.

Nietemin het Roemenië in sewe WB-toernooie sedert 1987 gespeel en is hy 16de op die wêreldranglys.

Dr. Craven sou beslis met ʼn groot glimlag na 1995 se wedstryd gekyk het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Sarel

Ou Dok draai in sy graf om.as hy moet sien wat hulle met sy geliefde spel asngevang het. Ou Dok was nie ” destydse Rugby baas” nie hy was Rugby.