Drie Afrika-breiers met SA bande se spanne wen

Toetsrugby in Afrika is Saterdag op indrukwekkende wyse oorheers deur spanne wat deur afrigters met Suid-Afrikaanse bande gebrei word.

In Rugby Afrika se reeks om die Goue Beker het Kenia vir Tunisië met 67-0 verwoes (rustyd 40-0), Uganda het Marokko met 47-29 opgekeil (rustyd 30-7) en Nigerië het Niger in ʼn vriendskaplike wedstryd met 59-13 verpletter (rustyd 17-6).

Die Simbas word deur Ian Snook, ‘n gewese afrigter van Grens, gebrei; die Mahemme deur die oud-Vrystater John Duncan; en Bronson Weir, ʼn gewese hoofafrigter van onder meer 2010 en 2011 se suksesvolle SA Studente-sewesspan, het pas die leisels by die Swart Hingste oorgeneem.

Die Goue Beker-reeks dien om Afrika se verteenwoordiger by aanstaande jaar se toernooi in Japan om die Rugbywêreldbeker (RWB) te bepaal, en die onoorwonne Namibië en Kenia se kragmeting eerskomende Saterdag in Windhoek sal in dié opsig die deurslag gee.

Die naaswenner kry ʼn tweede kans met deelname aan die vierhoekige RWB-heruitdun teen Kanada, Duitsland en Hongkong in November in Marseille, Frankryk.

Luidens berigte het Kenia in Nairobi indrukwekkend teen die Nomade vertoon, maar dit was sy eerste bonuspuntsege, iets wat Saterdag sterk in die Biltongboere se guns sal tel.

Tunisië, wat deur die gewese Suid-Afrikaanse polisieman Jaco Stoumann afgerig word, sal Marokko in sy laaste wedstryd moet klop om afskuiwing vry te spring.

Stoumann het die Bolandse klub Wellington in 1998 en 1999 in die destydse Nasionale Klubkampioenskap verteenwoordig, en is ʼn produk van die Hoërskool Nuwerus, op die randjie van die Knersvlakte in Namakwand.

Uganda se sege in Kampala was slegs sy tweede in vyf wedstryde, maar is goed genoeg vir ʼn derde plek in die reeks. Hy het ná rustyd tweede viool gespeel, en moes hard werk om voor te bly.

Phillip Wokorach het 16 punte (vier strafdoele en twee doelskoppe) vir die wenspan behaal.

Bronson Weir (links) – gedugte taak. (Foto: Twitter)

ʼn Gedugte taak wag op Weir om Nigerië se rugby weer op dreef te kry, nadat die land se skorsing deur Rugby Afrika opgehef is. Hy is vroeër geskors vanweë wanorde in sy administrasie.

Hy het voor die wedstryd aan Pale Toe! gesê rugby suig aan die agterspeen in Nigerië, en noodsaaklike strukture sal tot stand gebring moet word.

“[Die Nigeriese Rugbyfederasie (NRFF)] doen met beperkte geld wat hy kan, en het verskeie poste gevul om die spel te bevorder. Hy het selfs ʼn Nigeriese stut uit Italië vir die wedstryd [teen Niger] laat kom, en ons hoop om spelers uit Brittanje en Amerika by die seweskamp te kry.”

Nigerië se kaptein Azeez Ladipo het Saterdag in ʼn snikhete Niamey, Niger, 24 punte met ʼn drie, agt doelskoppe, en ʼn strafdoel aangeteken. Jato Onoru het drie drieë gedruk.

Weir het toegegee dat daar nie genoeg tyd vir die Hingste was om ten beste voor te berei nie, en dat daar nog baie werk vorentoe wag. Hy hoop om die beste spelers ook by die oefenkampe te betrek, en sê Kelechi Mbagwu, die president van die NRFF, is heel tevrede met die oorwinning, en het onderneem om planne te beraam om sake te verbeter.

Die Suid-Afrikaner sal nou afrigtingsklinieke by Nigeriese klubs aanbied, voor hy hom op die voorbereiding vir sewestoernooie in Ghana, die Ivoorkus en Nigerië toespits.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.