Drie Bok-veranderinge om die Iere tuis te probeer tem

Allister Coetzee het drie veranderinge aan die Springbokspan vir Saterdag se toets teen Ierland Dublin aangebring. Oor een kan ʼn mens nie kla nie, oor die ander wonder jy en oor die derde kan daar net kop geskud word.

Dit was seker te wagte dat Ruan Dreyer sy plek as vaskop sou verloor, en hy het. Coenie Oosthuizen het vanjaar sy beste rugby in die Boktrui gespeel voordat hy sy arm in September gebreek het, en is terug op vaskop. Dreyer is nie in die wedstryd se 23-tal nie, en Wilco Louw begin weer op die bank van waar hy teen die All Blacks sy buiging gemaak het.

Beast bo Kitshoff?

Die so-so verandering is Beast Mtawarira se terugkeer na die beginspan. Ja, hy speel vanjaar beter as die afgelope jare, en kort-kort hoor ʼn mens darem weer die skare se gejil van “Beeeast”  as hy die bal in die hande het.

Dit help egter nie, want dit is selde dat jy hom sien spelers uit die pad uit dryf en nie met die eerste aanraking teen ʼn teenstander sien omval nie.

Is Beast werklik beter as Stephen Kitshoff? Natuurlik nie, maar die kwota-balans in die span moet seker gehandhaaf word.

Kitshoff word as impakspeler gebruik, en hy was dusver in 18 van sy 19 toetse skitterend daarmee. Maar hy was ook uitstekend in sy enigste opdraf-toets teen die All Blacks.

Wat? Weer De Allende?

ʼn Mens kan dié vraag weer eens vra nadat Damian de Allende in die plek van Jan Serfontein gekies is.

Is dit ook oor die regering/SA Rugby se vereiste van kleur? Of is dit omdat Coetzee en kie werklik glo hy is die beste? Indien wel, op grond van watter uitblinker-wedstryde vanjaar wat vir manne soos die nou beseerde Ruan Combrinck, Rohan Janse van Rensburg, Francois Venter (darem dié keer op die bank) en Harold Vorster ʼn voorvereiste was?

Dit gaan ʼn mens se verstand te bowe dat De Allende al 27 keer in toetsrugby op die veld was, as opdraf-senter of plaasvervanger van die bank af.

Die wankelrige agterste driehoek is steeds daar, en Lood de Jager is weer bo Franco Mostert op slot gekies. Laasgenoemde is ʼn sprekende voorbeeld van te veel rugby se gevolge.

Elton Jantjies is steeds die losskakel, en Pieter-Steph du Toit wat teen die All Blacks baie goed op nommer sewe was, kry weer daar kans.

Ná twee wedstryde waar Chiliboy Ralepelle uit die bloute uit die groter Bokgroep gekies is om op die bank te sit, maar nie dáár of by die Sharks speelkans gekry het nie, is hy nou weer net ʼn oefensakdraer en is Bongi Mbonambi weer die haker op die bank.

Die Springbokspan –

15 Andries Coetzee, 14 Dillyn Leyds, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronjé, 8 Francois Louw, 7 Pieter-Steph du Toit, 6, Siya Kolisi, 5 Lood de Jager, 4 Eben Etzebeth (kaptein), 3 Coenie Oosthuizen 2 Malcolm Marx, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Wilco Louw, 19 Franco Mostert, 20 Uzair Cassiem, 21 Rudy Paige, 22 Handré Pollard, 23 Francois Venter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

HENNIE NEUHOFF ·

Ek weet nie of die Guptas hul hand hier in het nie. Dit kan die enigste rede wees waarom AC vir de Allende insluit.

Paul ·

de Allende en Page what a joke..ek hoop die Iere voeter die bokke goed op

Jaybee ·

Met de Allende in die span sien ek net ellende vir die bokke. Kitshoff móés in die begin span gewees het. Die agterste driehoek het nog nooit vertroue ingeboesem nie. Kan nie sien hoe die bokke Ierland gaan klop nie.

Callie ·

Dan moet Pollard opkom maar oor Beast afgaan moet Paige opkom vir kwotas. Ellende op ellende. Kwotas het ons afgetrek tot waar ons is. AC en kwotas gaan bokke totaal vernietig

Frans C ·

Het die tyd nie aangebreek om die Springbokrugby hoofstuk af te sluit nie en ‘n nuwe naam
vir die span te kies nie.Hoekom ek so sê is, dat dit altenaar is om die bokkie,keer op keer te sien blêr.

Willie ·

Die Iere gaan beslis wen, kwotas vernietig rugby, en die Iere wil wys hulle kan die Wereld Beker toernooi huisves…

Henry ·

Daar’s hulle Ierland!
Vat daai kwota spulletjie en hanskakies wat hulself as Springbokke wil smous!!!

Herman Goosen ·

As ‘n sterk teenstaander van slegte bestuur hoop ek nogal die Iere buit die onwyse en polities korrekte spankeuses wat gepaard gaan met takties agterlike spelpatrone goed uit. Enige span het altyd ‘n kans om ‘n moderne Springbokspan te klop, en ek hoop die Iere doen dit.

Tinus ·

Mens kan net jou kop skud oor D’Allende. Soos met Ricci January in die verlede het iemand klaarblyklik besluit hy gaan speel en speel en speel, totdat hy dit reg doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.