Drie Bok-voorspelers nie reg vir Superreeks

Jean-Luc du Preez word in die Curriebekereindstryd van die veld gehelp.(Foto Facebook – sarugbymag)

Drie gereelde Springbokvoorspelers in 2017, insluitende die kaptein Eben Etzebeth, sal weens beserings nie saam met hulle spanmaats kan opdraf wanneer die Superreeks op 17 Februarie begin nie.

Miskien het ʼn mens al van verlede jaar en vorige jare vergeet, maar die gevoel is ál of vanjaar se voorseisoense beseringslys langer en ernstiger is.

♦  Heel boaan die lys van ernstige beserings is die Sharks se Springbokstut Coenie Oosthuizen. Hy het in die tweede minuut  van die 3-38 skande teen Ierland sy knieligamente geskeur en sal die hele Superreeks misloop.

Dit beteken ook dat hy nie sommer vir die inkomende toetsreeks teen Engeland, wat twee weke na die Superreeks afskop, oorweeg sal word nie. Dit is ook onwaarskynlik dat hy voor Sanzaar se  Rugbykampioenskap in ʼn paar (minderwaardige) Curriebekerwedstryde sy kleim vir die Bokspan sal kan afsteek.

♦  Die besering van Eben Etzebeth is ernstiger as wat aanvanklik vermoed is. Die Stormers sal ten minste vier maande lank sonder sy dienste moet klaarkom nadat die franchise dit bevestig het.

Etzebeth is nog nie gereed om saam te begin oefen nie, wat in elk geval in dié stadium net hardloopwerk en beenoefeninge sou kon insluit.

♦  Jean-Luc du Preez, wat in die Curriebekereindstryd sy enkel beseer het en ʼn operasie moes ondergaan, sal hopelik teen middel-Maart saam met die Sharks in Australasië kan gaan speel. Hy was weens die besering nie in die toergroep vir die treurmare-jaareindtoer nie.

Terwyl al die spanne hulle kwota beserings het, kon die Stormers vir eerskomende naweek ondermeer vier van hulle voorste spelers nie vir die naweek se  losmaker teen die SWD Arende in George oorweeg nie.

Onder hulle is Jean-Luc du Plessis (lies), Frans Malherbe (nek), Jano vermaak (knie), Scarra Ntubeni (dyspier) en Jan de Klerk (knie).

Die twee Du Plessis’ sal albei sowat agt weke van die veld wees; Vermaak sal insgelyks nog sowat twee maande langs die kantlyn moet staan; en Malherbe herstel nog van ʼn nekoperasie. Hy sal nog ‘n geruime tyd buite aksie wees.

♦  Die Bulls het probleme op skrumskakel. Piet van Zyl het uitgetree maar is toe oorsee, sy mede-Springbok Rudy Paige het die week ʼn liesoperasie ondergaan, en is saam met die Bulls se belowende skrumskakel Ivan van Zyl, tot einde Februarie op die krukkelys.

Die losvoorspeler Ruan Steenkamp is ook beseer in ʼn posisie waar die Bulls verlede jaar meer as hulle aandeel beserings gehad het.

Die Springboksenter Jesse Kriel, die slot Hendré Stassen, Jannes Kirsten (veelsydige voorspeler) en die haker Corniel Els oefen apart en neem net aan sekere oefeninge deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.