Drie Bokke in BaaBaas-kleure

Steven Kitshoff en Duane Vermeulen vier Suid-Afrika se oorwinning teen Nieu-Seeland in die Rugbykampioenskap. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Malcolm Marx, Steven Kitshoff en Duane Vermeulen sal Saterdag in die kleure van die Barbarians-rugbyspan uitdraf wanneer hulle vir Samoa op Twickenham aanvat.

Benewens die drie Suid-Afrikaners is tien Australiërs in die groep, terwyl daar ook ’n paar spelers van Japan, Argentinië en Skotland in aksie sal wees.

Vermeulen se nuwe hoofstuk by Ulster kruip ook al hoe nader. Die 35-jarige agsteman het ’n kontrak tot 2023 met die Ierse klub onderteken.

“Duane is ’n wonderlike speler, hy is die agtsteman van die verdedigende wêreldkampioenspan én die speler van die wedstryd in die eindstryd van die 2019-Wêreldbeker-toernooi. Sy ervaring sal ongetwyfeld van baie waarde wees,” het Dan McFarland (Ulster-hoofafrigter) gesê.

Die Barbarians-wedstryd begin Saterdag om 16:30.

Moontlike Barbarians-span: James O’ Connor (Australië), Filipo Daugunu (Australië), Izaia Perese (Japan), Len Ikitau (Australië), Tom Wright (Australië), Ryoto Nakamura (Japan), Tate McDermott (Australië), Olly Robinson (Cardiff Blues), Rob Leota (Australië), Pete Samu (Australië), Rodrigo Fernandez Criado (Argentinië), Jack Dunne (Leinster), Shinnosuke Kakinaga (Japan), Malcolm Marx (Suid-Afrika) en Tom Robertson (Australië). Plaasvervangers: Steven Kitshoff (Suid-Afrika), Kosuke Horikoshi (Japan), Naohiro Kotaki (Japan), Angus Bell (Australië), Duane Vermeulen (Suid-Afrika), Nic White (Australië), Ryan Wilson (Skotland), Rob Kearney (Ierland) en Marcos Moneta (Argentinië).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Sien geen ander van ons sogenaamde eerste keuse bok spelers in die span nie. Dit laat mens dink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.