Drie gewese Griekwas treetjie nader aan die WB

Matt Rosslee – 17 punte. (Foto: HKRU)

Drie gewese spelers van Griekwas is ʼn treetjie nader aan die Wêreldbekertoernooi aanstaande jaar in Japan nadat Hongkong Saterdag deeglik met Maleisië afgereken het.

Hy het die wedstryd in die Asiatiese Rugbykampioenskap met 67-8 gewen.

Die reekswenner speel teen die Cook-eilande (Oseanië) om te bepaal wie aan die vierhoekige heruitdun in Frankryk sal deelneem om die laaste span vir die toernooi aan te wys.

Die oud-Griekwas wat Hongkong teen Maleisië verteenwoordig het, was Matt Rosslee (losskakel), Liam Slatem (skrumskakel) en Dylan Rogers (stut).

Rosslee het Curriebekerrugby vir die Poubloues gespeel; en Slatem en Rogers het Vodacomberrugby vir hulle gespeel. Slatem het ook die Luiperds in die Curriebekerreeks verteenwoordig.

Eersgenoemde het Saterdag 17 punte met die voet vir Hongkong behaal, en ʼn hand in twee van die wenspan se tien drieë gehad.

Slatem het ʼn drie gedruk ná ʼn vlymskerp breekslag en ʼn goeie lopie, waarna hy ʼn spanmaaat in besit gestel het, die bal weer ontvang, en toe afgerond het.

Hy het die grondslag vir nog ʼn drie gelê toe hy ná ʼn tikskoppie diep in sy eie gebied begin hardloop het.

Hongkong se volgende wedstryd in die Asiatiese reeks is teen Korea, sy vernaamste uitdager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.