Drie Ierse broers teken punte vir Swede aan

Dis nie aldag dat drie broers saam in ʼn rugbytoets speel nie, en dit gebeur selde indien ooit dat al drie in dieselfde toets punte aanteken.

Die broers Murphy van Galway, Ierland, het dit Saterdag reggekry toe hulle Swede in Enköping in Afdeling 1 Noord van Rugby Europa se kampioenskap teen Letland verteenwoordig het.

Conor (losskakel) het tien punte met vyf doelskoppe behaal, en Philip (heelagter) en Nils (regtervleuel) het elk ʼn drie gedruk.

Hul moeder is Sweeds.

Swede, voor die wedstryd die agteros in die afdeling, het grootliks verras deur Letland oortuigend met 50-27 te klop (rustyd 19-13).

Hy eindig gevolglik, ná Litaue en Oekraïne, derde uit vyf lande.

♦ In Tartoe, Estland, het die gebore Suid-Afrikaner Adriaan Botha (losskakel) ʼn drie vir Noorweë teen Estland gedruk.

Noorweë het die wedstryd in Afdeling 2 Noord met 47-16 gewen (rustyd 21-6).

♦ In nóg ʼn wedstryd in dié afdeling het Denemarke vir Finland in Helsinki met 57-10 opgefrommel.

Die Deense regtervleuel, Cassius Deschamps, het 17 van sy span se punte behaal. Hy het ʼn drie gedruk en met ses doelskoppe geslaag.

Denemarke is nou tweede in dié afdeling, wat reeds deur Luxemburg gewen is.

Noorweë is tans derde, maar Finland kan hom verbysteek as hy in die laaste wedstryd van die seisoen met Estland kan afreken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.