Drie OP-klubs mik na boonste Super12-sport

gardensDrie klubs uit die Oostelike Provinsie mik na die hoogste sport op die groeppuntelere van die Oos-Kaapse Super12-reeks wanneer die derde en laaste ronde Saterdag afgehandel word.

Spring Rose (New Brighton), Gardens (Uitenhage) en Park (Port Elizabeth) hoop al drie op `n derde opeenvolgende oorwinning om hul plekke boaan die onderskeie groepe te bevestig.

In Groep A reis Spring Rose Grens toe om met Winter Rose (Mdantsane) kragte te meet en gegewe die twee spanne se uitslae dusver behoort die OP-klub te wen. Hy het reeds met verlede jaar se naaswenner, Gardens, afgereken en Winter Rose het dusver vanjaar twee nederlae gely. Laasgenoemde sal met rasse skrede moet verbeter as hy die besoekers wil klop.

Progress (Uitenhage), wat naelskraap teen Spring Rose verloor het, sal sy aanspraak wil herstel wanneer hy as gasheer vir Berlin Tigers optree.

Gardens het `n groter uitdaging in Groep B teen die Brumbies in Grahamstad ophande. Die Grensklub het sy eerste wedstryd gewen, maar toe teen verlede jaar se kampioen, Oos-Londen Polisie, vasgeval. Met `n plek in die uitspeelrondes op die spel, kan die Uitenhaagse span `n taai kragmeting op die Grahamstadse Ovaal te wagte wees.

In Groep C is Park die gunsteling ongeag sy wegwedstryd teen Breakers op Queenstown. Sy teenstander het nog nie `n wedstryd gewen nie, en Park het verlede week indrukwekkend in sy sege oor Trying Stars van Alexandria vertoon.

Stars sal bitter graag op sy tuisveld teen die Walter Sisulu Universiteit (WSU) weer op die wenpad wil kom. Albei spanne het Breakers geklop, maar teen Park verloor. Dis dus `n regstreekse tweestryd om een van die vanselfsprekende plekke in die uitspeelronde.

Die boonste twee spanne in elke groep kwalifiseer vir die kwarteindronde, wat dan aangevul word deur die twee spanne uit die drie groepe wat hiernaas die beste stand op die puntelere toon.

Die bepalings (tuisspanne eerste) –

Groep A:  Winter Rose teen Spring Rose, Progess teen Berlin Tigers.

Groep B: Buffalo teen Oos-Londen Polisie, Brumbies teen Gardens.

Groep C: Breakers teen Park, Trying Stars teen WSU.

(Berig deur die OPRU verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.