Drie SA Skolespelers in sewesspan vir Windhoek

Rikus Pretorius (Foto: Twitter)

Rikus Pretorius (Foto: Twitter)

Drie lede van verlede jaar se SA Skolespanne is ingesluit in die SA Sewesakademie se o.18-span wat Vrydag en Saterdag in Windhoek aan die Capricorngroep-Windhoekgimnasium-sewestoernooi deelneem.

Die toernooi is by geleentheid van die ingebruikneming van Windhoekgimnasium se nuwe kunsmatige rugbyveld. Die nasionale o.18-spanne van Duitsland, Namibië, Botswana en Zimbabwe neem eweneens daaraan deel.

Rikus Pretorius (Vrystaat) het die SA o.19-span in verlede jaar se skolereeks teen Engeland, Wallis, Frankryk en Italië verteenwoordig, en voer eerskomende naweek die sewesspan aan.

Janco van Heyningen (Vrystaat) en Mark Snyman (Goue Leeus) het in dieselfde reeks vir die SA Skole-A-span gespeel.

Marius Schoeman, die bestuurder van die SA Sewesakademie, sê die groep is propvol talent en behoort goeie rekenskap van homself te gee.

“[Die Akademie] is deurlopend op die uitkyk vir ontluikende talent op skolevlak om sy taak as voeder van die nasionale sewesspan uit te voer,” het hy in ‘n verklaring gesê, wat deur die SA Rugbyunie (Saru) in Kaapstad uitgereik is.

“Toernooie soos dié is uiters waardevol omdat dit die geleentheid bied om te bepaal hoe die spelers in wedstryde vaar.”

Die Windhoekse byeenkoms word deur die internasionale rugbypromotor Willem Strauss gereël.

Schoeman word as afrigter van die Akademiespan bygestaan deur Paul Delport, wat nes hy (Schoeman) ‘n gewese Blitsbok is.

Die span –

1. Pepsi Buthelezi (Durban High), 2. Sanele Nohamba (onderkaptein, Durban High), 3. Sebastiaan Jobb (Duineveld), 4. Mark Snyman (Helpmekaarkollege), 5. Rikus Pretorius (kaptein, Greykollege), 6. Janco van Heyningen (Greykollege), 7. Angelo Davids (Stellenberg), 8. Qamani Kota (Welkomgimnasium), 9. Ruben Beytell (EG Jansen), 10. Muzi Nyakane (Ben Vorster), 11. Henco Martins (Paarlgimnasium), 12. Marnus Potgieter (Affies). Reisende reserwe: 13. Henk Cilliers (Greykollege).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.