Drie SA spanne kan goed vaar in Superreeks

Superrugby trofeeDie talent is daar vir `n suksesvolle Superrugbyreeks deur Suid-Afrikaanse spanne, maar soos die afgelope jare bly die vraag of die spelersvaardigheid en spelpatroon van die spanne goed genoeg gaan wees om `n vierde Supertitel by die Bulls se drie suksesse te voeg.

Ja, goed, net `n superoptimis sal seker voorspel dat `n vierde titel gewen kan word. Verlede seisoen se rekord van `n derde plek (Sharks) gevolg deur `n negende (Bulls), elfde (Stormers),  twaalfde (Lions) en veertiende (Cheetahs) plek van die Suid-Afrikaanse spanne gee immers min hoop op sukses.

Met net ses weke oor voordat die eerste skote op 1 Februarie in vanjaar se Superrugby klap, is die kykie na Suid-Afrikaanse spanne se kanse in die strawwe reeks egter glad nie so negatief as wat `n mens sou dink nie.

Tog moet die kanse van drie van ons spanne, die Sharks (derde verlede seisoen en die enigste wat `n uitspeelplek kon behaal), die Bulls en die Stormers nie afgeskryf word nie.

Die Lions, selfs met `n nuwe borg wat te laat gekom het om die kern van die span se gehalte noemenswaardig met nuwe aankope te versterk, gaan `n klomp verrassings lewer en `n paar groot aansprakmakers op die titel se kanse knou, maar dit is stellig te veel gevra dat die positiewe jongelinge vanjaar reeds bolangs gaan eindig.

Die Cheetahs se verlies van Springbokke soos Adriaan Strauss en Trevor Nyakane en ook die losvoorspeler Lappies Labuschagne wat al drie na die Bulls toe is en maar net `n paar van die voorste verliese is, beteken dat die treurmare van die Cheetahs in 2014 voortgesit gaan word.

Die Sharks het verlede jaar weggespring soos hulle graag wou, maar dit lyk of dinge in die Sharks se spelerskamp nie altyd glad verloop het nie. Of dit alles voor die deur van Jake White gegooi kan word, sal die tyd leer.

Hulle het egter `n nuwe afrigter in die ervare Gary Gold, en hy bring ook `n nuwe benadering waar die bal hopelik meer lug gegee sal word om die gebalanseerde span `n werklike uitdager te maak. Die feit dat Brendan Venter ook deel van die Sharks se planmakers sal wees, is ook goeie nuus.

Kyk maar na manne soos die Springbokvoorry van Beast Mtawarira, Bismarck en Jannie du Plessis. Puik talent, soos Lourens Adriaanse, die jong Thomas du Toit, Dale Chadwick, Matt Stevens en Kyle Cooper, verskaf die diepte.

Om hulle by te staan is daar die jong Springbokslotte Stephan Lewies en Pieter-Steph du Toit, wat terug is na sy langtermynbesering, en ook die nuweling JC Astle, wat `n sterk lynstaanman is; losvoorspelers wat Willem Alberts, Marcell Coetzee, die Curriebekerkaptein Tera Mtembu en Ettienne Oosthuizen (ook as slot).

Die agterlyn beskik oor onder meer Pat Lambie, Paul Jordaan, André Esterhuizen, Lwazi Mvovo, JP Pietersen, Sibusiso Sithole, Fred Zeilinga en Cobus Reinach. Laagenoemde het  baie tegniese tekortkominge, maar beskik oor `n vlymskerp breekslag. Lionel Cronjé en SP Marais kan ook gate kan losharloop en help die kern vorm van `n kampioenspan.

Die Bulls se beseerdes is feitlik almal terug. Die Springbokke Arno Botha, Pierre Spies en Flip van der Merwe is die belangrikste terugkerendes. Daar is ook die aanwins van die voorry-Springbokke Adriaan Strauss en Trevor Nyakane en Lappies Labuschagne; Handré Pollard wat uit die staanspoor beskikbaar sal wees met nog `n goeie losskakel Jacques-Louis Pogieter, steeds daar na `n 2014-seisoen wat seker sy beste nóg was. Daar is Springboksenters in Jan Serfontein en JJ Engelbrecht, wat op sy beste ná `n swak 2015-seisoen `n wenner kan wees en twee jong senters in William Small-Smith  en Burger Odendaal wat in 2014 stem dik gemaak het in sy eerste seisoen van groot rugby. Dan is daar jongelinge soos Jesse Kriel, wat saam met die ou manne soos Björn Basson en Akona Ndungane (vir oulaas), Jurgen Visser, Ulrich Beyers en die horde SA o.20’s van laas jaar wat diepte en gehalte verseker.

Voorlangs is daar Grant Hattingh, wat in 2014 in `n yster ontwikkel het, Marvin Orie wat ‘n grote kan word, Victor Matfield, Morné Mellet, Deon Stegmann, Jacques du Plessis, Jacques Engelbrecht…

Die vraag is of dié klomp begaafde spelers in `n eenheid saamgesnoer kan word en of die afrigter Frans Ludeke se verklaarde voorneme dat meer met die bal gehardloop sal word, deur die spelers uitgevoer kan word. Onthou, in Suid-Afrika is die vaardighede vir aanvallende rugby nie so goed ingedril as Doer Onder nie.

En die Stormers? `n Vars briesie onder die invloed van Gert Smal as die nuwe direkteur van afrigting was waarneembaar teen die einde van die 2014-Superreeks. Dít is voortgesit in die Curriebekerreeks.

Baie van die Stormers en die WP se skouspel – én sukses – was egter afkomstig van gebroke spel en die vlugvoetige manne wat met die spasie weens swak skoppe van die teenstanders van agter af bresse kon slaan. Kobus van Wyk, Juan de Jongh, Cheslin Kolbe en Seabelo Senatla is diesulkes.

Die vraag is: Het hulle die vloei, die vaardigheid en, sonder Jean de Villiers die basis om ook uit struktuurspel agterlangs hulle ding te doen? En hoe gaan die afwesigheid van ervare manne in die voorry soos die Springbokke Pat Cilliers, Tiaan Liebenberg, Brok Harris en Deon Fourie die span beïnvloed?

Daar is darem nou ook Alistair Vermaak wat `n yster word, die terugkerende Springbok Frans Malherbe en Stephen Kitshoff, die hakeraanwins uit Pretoria Bongi Mbonambi en Scarra Ntubeni om die voorste linie te vorm van `n pak met manne soos Eben Etzebeth, Juan Dreyer, Jean Kleyn, Rynardt Elstadt, Michael Rhodes, Frans Malherbe en `n lostrio wat Duane Vermeulen, Siya Kolisi en Nizaam Carr insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae