Cravenweek: drie spanne troon uit tussen die hoë tellings

Teboho Rampai druk een van van die Vrystaat se 12 drieë (Foto Lee Warren/Gallo Images)

Op die eerste dag van die Cravenweek vir onder 18’s by St. Stithians het die Goue Leeus op tuisbodem, die afgelope twee jaar se voorste span die Westelike Provinsie, en ook die Vrystaat hand opgesteek om Saterdag in die hoofwedstryd te speel.

Dit was ʼn dag waar hoë tellings in vier van die vyf Cravenweek-wedstryde die vertonings van die wenspanne so effe skeefgetrek het en dit moeilik gemaak het om die spanne werklik na waarde te skat.

Net die oorwinning van Griekwas-platteland met 28-27 oor die Griffons het redelik gelykop verloop. Die wenspan se verrassende sege het net twee drieë ingesluit teenoor die vyf wat die Griffons gedruk het, maar Iwan Lombard het 13 skoppunte behaal teenoor die twee van Andrew Kota van die Griffons.

In die ander wedstryde het die Vrystaat die Boland met 81-26 flenters gehardloop en 12 drieë teen twee gedruk; die Goue Leeus het na ʼn stadige begin en met ʼn rustydtelling van 13-8 hul ritme gevind en met  44-8 teen Grens gewen in ʼn wedstryd waar die goed-afgerigte Oos-Kapenaars net eenvoudig nie die skietgoed gehad het nie; en die WP het stelselmatig die oorhand oor die Pumas gekry wat ondanks hulle slae van 10-36 met ʼn paar uitblinker-vertonings deur van hul spelers vorendag gekom het.

Veral die senter Sphe Mthethwa en die groot vleuel Prince Nkabinde het met min geleenthede die oog op die aanval gevang.

♦  Soos by die onder 13’s kan ʼn mens met reg vra: is daar enige sin in dat Grens-platteland teen die grotes meeding? Dié keer is hulle deur die Limpopo Blou Bulle met 41-3 kis gespeel. Dit is die 25ste jaar sedert hulle die eerste keer deelgeneem het, en hulle oorwinnings kan letterlik ná sowat 70 wedstryd op een hand getel word.

Is dit ontwikkeling? Moedig dit die seuns aan om aan te hou speel?

Die Vrystaat se senter Henk Cilliers het vier van sy span se 12 drieë gedruk, en die losskakel Christopher Schreuder het 26 punte met ʼn drie, ʼn strafdoel en nege doelskoppe aangeteken.

♦  Ook die Akademieweek het groot oorwinnings opgelewer. Die WP se oorwinning van 38-31 teen die Boland het gevolg na ʼn taai stryd waarin die WP eers teen die einde die oorhand en die wentelling verkry het.

Die Oostelike Provinsie en Griekwas het met 22-elk gelykop gespeel. Griekwas het in die tweede helfte pragtig teruggeveg nadat die rustydtelling 8-19  was.

Maandag se uitslae –
Cravenweek

Griekwas-platteland 28 Griffons 27; Limpopo Blou Bulle 41 Grens-platteland 3; Vrystaat 81 Boland 26; WP 36 Pumas 10; Goue Leeus 44 Grens 8.

Akademieweek

Valke 41-12 Limpopo Blue Bulls; OP-platteland 62 Griekwas-platteland 3; OP 22 Griekwas 22; Griffons 48 Sharks-platteland 31; Sharks 46 SWD 7; WP 38 Boland 31.

Dinsdag se bepalings –

Cravenweek
09:00 – Valke vs Namibië
10:35 – Luiperds vs Zimbabwe
12:05 – Griekwas vs OP Platteland
13:45 – SWD vs OP
15:30 – Blou Bulle vs KZN

Akademieweek
09:00 – Goue Leeus XV vs Zimbabwe
09:20 – Valke-platteland vs Grens Platteland
10:40 – SA LSOB vs Griffons-platteland
12:00 – Namibië vs Pumas-platteland
14:40 – Blou Bulls vs Vrystaat
16:00 – Goue Leeus vs Pumas

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Swamers ·

Iwan Lombard het 13 punte aangeteken nie net 10 nie. Dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.