Drie uit drie teen die Engelse!

Pure lekkerte! RG Snyman op volle vaart teen Engeland. (Foto GB Jordaan)

Om beskeie te wees, is een van die beste en noodsaaklikste karaktereienskappe vir enige sportman.

Maar ai, was dit darem nie alte lekker om dié naweek weer ʼn bietjie te kon pronk toe die Springbokke die Engelse met 42-39 in die eerste rugbytoets op Ellispark geklop het nie? En Sondag ook, toe die Blitsbokke in Parys uit die bloute weer as Wêreldrugby se seweskampioene gekroon is nadat hulle Engeland in die eindstryd verslaan het en die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan Saterdag in Worcester die Engelse vrouespan (die huidige Wêreldbeker-kampioen) met sewe paaltjies in ʼn eendagwedstryd geklop het?

Drie uit drie, vat so!

Maar dis waar die vreugde moet eindig, waar die streep getrek moet word en waar die harde werk van vooraf moet begin.

Geen sportman kan bo bly nie en sal die een of ander tyd verloor. Ja, Rocky Marciano is die enigste swaargewigbokser wat onoorwonne uitgetree het (49-0), maar hy het vier of vyf keer in nege amateurgevegte slae gekry. Só ook het Roger Federer, Rafael Nadal, Tiger Woods en Muhammad Ali ook slae op die kruin van hul loopbane gekry.

Jare gelede, toe die All Blacks die Springbokke omgerol het, het Colin Meads die aand herhaal wat al soveel keer voor hom (en ook ná hom) gesê is: Jy is net so goed is soos in jou laaste wedstryd; gee altyd erkenning aan jou teenstander en onthou dat die spel groter as enige individu is.

Ek is seker dat die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, uit dieselfde graniet gegiet is, dat hy ook nie op loop sal gaan oor een oorwinning nie, en dat hy die spelers se voete op die grond sal hou en hopelik daarop sal voortbou.

Geniet ʼn oorwinning en vergeet ʼn dag of twee van al die neerlae en probleme – maar dan moet die harde werk weer begin.

Dis waarteen Kitch Christie gewaarsku het nadat die Bokke in 1995 die Wêreldbeker op Ellispark omhoog gehou het. Slegs ʼn paar maande daarna het die Bokke vier keer opeenvolgens teen die All Blacks verloor.

Wat van Nick Mallett se superbrekers wat tussen 1997/’98 in 17 toetse onoorwonne was? Hul oorwinningstog is aan die einde van 1998 deur Engeland beëindig en toe verloor die Bokke vier keer ná mekaar in 1999 teen Wallis (19-29), die All Blacks (18-34 en 0-28) en ook teen die Wallabies (6-32).

Geniet die oomblik en plaas dit dan op die rak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.