Drie uit SA tussen Amerikaanse liga se topdertig

Drie spelers met Suid-Afrikaanse wortels tel tussen die dertig topspelers in die Amerikaanse Senior Rugbyliga (MLR) wat pas deur dié reeks aangewys is.

Die MLR sê dis spelers wat sonder uitsondering elke wedstryd spel van ʼn hoë gehalte gelewer het.

Hanco Germishuys (Austin Elite), ʼn Amerikaanse toetsflank, wat Griekwas by die o.13-Cravenweek verteenwoordig het, is in die eerste vyftiental ingesluit.

In die tweede vyftiental kry die Amerikaanse toetsskrumskakel Shaun Davies (Glendale Raptors) en Zinzan Elan-Puttick (Austin Elite) plek.

Davies is ʼn oudleerling van Westville Boys’ High in Durban, en Elan-Puttick (heelagter) van Grey-kollege in Bloemfontein.

Germishuys en Elan-Puttick se insluiting is des te meer merkwaardig omdat hul span nie die uitspeelrondes gehaal het nie.

Ander spelers wat in die loop van die seisoen die span van die week gehaal het, sluit JP Eloff (losskakel/senter), Riekert Hattingh (losvoorspeler) en Adolph Botha (stut) in.

Eloff (New Orleans Gold), eweneens ʼn Amerikaanse toetsspeler, is ʼn oudleerling van die Hoër Tegniese Skool John Vorster, Pretoria; Hattingh (Seattle Seawolves) is die seun van die oud-Springbok Drikus Hattingh, en het vir die Blou Bulle gespeel; en Botha (San Diego Legion) het vir die Cheetahs in die Superrugbyreeks uitgedraf.

Gemishuys, wat weens sy toetsverpligtinge in Junie ʼn paar wedstryde misgeloop het, se agt drieë was die derde meeste in die reeks. Eloff (65) het die derde meeste punte aangeteken, ʼn keer 26 in ʼn wedstryd.

Chad London (Glendale Raptors), wat in Johannesburg gebore is, is deur die webwerf Americas Rugby News in sý span van die week ingesluit, na aanleiding van sy vertoning in die MLR-halfeindronde. Dié lys sluit die Jaguars se spel in Superrugby in.

ARN sê Glendale se buitesenter, en nóg ʼn Amerikaanse toetsspeler van Suid-Afrikaanse oorsprong, was indrukwekkend met die wyse waarop hy die Utah Warriors se vernietigende Paul Lasike in toom gehou het, en op die koop toe verseker het dat Utah se dodelike agterste driehoek min hardloopgeleentheid kry.

Die Blitsbok Joe Pietersen (San Diego Legion) het baie laat op die MLR-toneel verskyn, maar het verlede week 14 van sy span se punte in sy halfeind-nederlaag teen Seattle aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.