Drie uit Suid-Afrika kry tientalle in Frankryk

Drie spelers uit Suid-Afrika het tientalle behaal in die jongste ronde van die Franse beroepsligas.

Die Springbok-losskakel Pat Lambie het weereens ʼn goeie bydrae vir Racing 92 in sy sege van 26-0 oor Montpellier in die Top14-liga gelewer.

Hy het elf punte met ʼn doelskop en drie strafdoele op die telbord geplaas.

Die ander twee gevalle was in die Pro D2-liga.

In Mont de Marsan se wegholsege van 68-15 oor Bayonne het Danré Gerber (losskakel), wat Curriebekerrugby vir die Boland gespeel het, 14 punte met sewe doelskoppe vir die wenspan aangeteken.

Die oud-Cheetah Willie du Plessis (losskakel) het ʼn strafdoel vir Bayonne behaal.

Burton Francis (losskakel) het 13 punte met vyf doelskoppe en ʼn strafdoel vir Grenoble, die voorloper in die reeks, aangeteken.
Sy span het Colomiers met 58-23 getroef.

Francis het Superrugby vir die Bulls, die Lions, die Stormers en die Cheetahs gespeel.

Top14-liga

Terug by die Top14-liga het Paul Jordaan (buitesenter), ʼn gewese Sharks-speler, ʼn drie vir La Rochelle in sy oorwinning van 44-14 oor Pau gedruk.

Nick Abendanon (regtervleuel), ʼn Engelse toetsspeler wat in Bryanston gebore is, het een van Clermont se vier drieë teen Oyonnax gedruk.

Die twee spanne het het met 32-32 gelykop gespeel.

Pro D2-liga

Twee Suid-Afrikaanse losvoorspelers het vir elk van die spanne in Montauban se sege van 36-20 oor Nevers agter die doellyn gaan kuier.

Vleis Engelbrecht (flank), wat Superrugby vir die Bulls en die Kings gespeel het, het vir Montauban gedruk; en JC Fraser (agsteman), ʼn gewese Curriebekerspeler van Griekwas, vir Nevers.

In Biarritz se sege van 41-18 oor Narbonne, het Edwin Hewitt (slot) ʼn drie vir die wenspan gedruk.

Hy het die Sharks in Superrugby verteenwoordig.

Fédérale 1-liga

Jeff Perkins (losskakel), een van vier broers wat Curriebekerrugby vir die Valke gespeel het, het ʼn doelskop en ʼn strafdoel tot Rôval Drome se sege van 22-7 oor Aubenas in die Fédérale 1-liga bygedra.

Cameron Dunlop (plaasvervanger-losskakel) was vir Aubenas se doelskop verantwoordelik.

Hy het die Sharks-vyftiental in die Vodacombekerreeks en die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig.

In Valence d’Agen se oorwinning van 27-15 oor Graulhet het Rynardt van Wyk (agsteman), wat Curriebekerrugby vir die Grens gespeel het, een van die wenspan se drieë gedruk.

Pieter Morton (binnesenter), wat o.21-rugby vir die Vrystaat gespeel het, het ʼn drie vir Dijon teen Villeurbanne gedruk, maar het hom later in die wedstryd ʼn geel kaart op die hals gehaal.

Dijon het die kragmeting met 32-26 gewen.

Andries van Blerk, ʼn slot van Blagnac, is met ʼn geel kaart gestraf in sy span se sege van 41-3 oor Bergerac.

Hy het voorheen vir die Luiperds-vyftiental in die Vodacombekerreeks uitgedraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.