Drie spelers is voor Sanzaar se vuilspelkomitee gedaag ná voorvalle in Saterdag se Superrugby-kragmetings in Suid-Afrika.
Ross Geldenhuys, stut van die Kings, se verskyning spruit uit die derde geelkaart wat hy in vanjaar se reeks op die lyf geloop het.
Die eerste twee is in die eerste en vierde weekronde aan hom uitgereik, die derde Saterdag teen die Kings in Port Elizabeth omdat hy herhaaldelik nie by duikslae weggerol het nie.
RG Snyman, slot van die Bulls, is met ʼn rooikaart gestraf in die wedstryd op Loftus Versfeld tussen die tuisspan en die Highlanders omdat hy strydig met die reëls in ʼn losskrum ingedons het.
Die Highlanders-vleuel Waisake Naholo is in dieselfde kragmeting met ʼn rooikaart vir ʼn gevaarlike duikslag gestraf.
Al drie sal Maandag voor die komitee verskyn.
Dié van hulle wat skuld erken en die toegemete straf aanvaar se sake sal afgehandel wees.