Drie voorvalle, twee skorsings

rooi kaartNou sit die rugbybase met `n taai tameletjie.

Toe die Highlanders-senter Jason Emery twee weke gelede die Sharks-heelgter, Willie le Roux, se voete in die lug onder hom uitgelig het in die Superrugbywedstryd in Dunedin, het hy `n rooi kaart gekry (en verdien). Hy is uitgewys en heeltemal tereg is hy vir vier weke (deur advokaat Jannie Lubbe, De Wet Barry en John Langford) geskors.

Emery se oë was nie op die bal nie, hy het nie `n poging aangewend om met Le Roux mee te ding nie en wonder bo wonder het Le Roux nie seergekry nie.

Kom ons draai die horlosie aan tot Saterdagmiddag op Nuweland, toe die Stormers-vleuel Leolin Zas die Waratahs-losskakel Bernard Foley se voete onder hom uitgelig het.

Zas se oë was op die bal, hy het probeer meeding, maar het ongelukkig gegly en Foley het, net soos Le Roux se geval, op sy nek en skouers te lande gekom. Die Nieu-Seelandse skeidsregter Mike Fraser het Zas ook met ‘n rooi kaart afgestuur, straks omdat Foley lelik kon seergekry het.

En toe trek Nuweland se skare los en jou Fraser uit. Daar word honderde twiets uitgestuur, ook ene deur Breyton Paulse, wat sê dit was die mees verregaande rooi kaart ooit. Zas het gegly en dit was nie sy bedoeling nie (dit staan nêrens in reël 10.4 (i) nie, dit bly die skeidsregter se oordeel en vertolking). Zas is uitgewys en vir twee weke deur Nigel Hampton, `n Nieu-Seelander, geskors.

Kom ons skuif die horlosie aan tot laat Saterdagaand in die kragmeting tussen die Jagueres en Southern Kings in Buenos Aires. Die Kings-vleuel Luzuko Vulindu het presies dieselfde oortreding gepleeg, hy het die voete van die Jaguares se Emiliano Bofelli onder hom uitgeneem. Bofelli hert op sy boude geland en die skeidsregter Stuart Berry het `n geel kaart aan Vulindu gegee.

Tot dusver geen uitwysing, byna geen twiet daaroor nie.

Dit laat my dink aan die oud Tukkie- en Noord-Transvaalse heelagter Oelof de Meyer, wat jare gelede ook die gewoonte gehad het om hoog vir die bal te spring.

Een Saterdag in `n Carltonbekerwedstryd spring “Plastics” (dit was sy bynaam) ook hemelhoog vir die bal en sy voete word onder hom uitgelig. Die SA Noodhulpliga (die Pynpolisie, soos hulle genoem is) was dadelik by om De Meyer, wat uit soos ‘n kers was, te behandel.

Bring die water en siedaar, De Meyer kon voortspeel.

Dis hoekom ouers jare gelede skietgebedjies voor en ná wedstryde opgestuur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos ·

Jare terug het Mannetjies Roux n ausie des dingrs geloop, die man het eers na die wedstryd weer bygekom. Geen haan het daarna gekraai nie want rugby was nie deur sussies gespeel nie

Jonathan ·

Breyton Paulse sal natuurlik nou se die rooi kaart was n verregaande rooi kaart gewees.
Die reel se moet nie die speler in die lug speel nie, dit help nie jou oe is op die bal en jy doen verder niks en dan gly, glad nie probeer om in die lug te kom om na die bal te speel nie ja dit was per ongeluk maar die reel se dat daar nie aan n speler geraak mag word as hy in die lug is nie. ek is self n stormer ondersteuner en regverdig die rooi kaart

Ockert ·

Was ‘Plastic’ nie die bynaam vir Pierre Edwards nie? Verbeel my half so…

Henry ·

Nee.
Dit was Olaf de Meyer se bynaam.
Met sy seninglyf het hy menige teenstander se aanslae weerstaan en ongeskonde op gestaan en voort geveg. Die teenstander het meer as dikwels sleg tweede gekom.
‘n Yster van formaat.

Nico K ·

Ek besef dat die reël nêrens sê dat dit moet jou bedoeling wees nie, maar ek voel darem dat ‘n mens kan nie gestraf word vir iets wat jy per ongeluk gedoen het nie. Veral as hulle na die tyd rustig daaroor kan besin en die TV opname rustig kan beskou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.