Drieëdroogte kenmerk WB-eindstryde

Heyneke Meyer (Foto: theguardian.com)

Heyneke Meyer (Foto: theguardian.com)

Heyneke Meyer se eerste Springbokgroep is aangekondig, Die net is wyd gesprei, en daar is jeug en ervaring. Daar is `n paar verrassings, en daar is vir sommige spelers ongetwyfeld teleurstellings.

Dis soos dit is. En dis miskien tyd dat `n mens ophou kritiseer. Elke ou, letterlik, soek iets anders in `n speler of span; of hou nie van iemand nie. Dit geld my, my kollegas, die lesers…ensovoorts.

Van die voorkeurspelers sal byvoorveeld insluit `n man wat kan gapings vat. Wie van die bevooroordeelde ondersteuners of skrywers sien of weet dat hy swak verdedigingsrekord het? Dit gaan oor meer as net `n tekkel verbrou, wat almal kan sien – uit sy lyn uit verdedig, nie die verdedigingsplan van binne- of buite toe nakom nie, en dies meer.

En so kan `n mens na letterlik elke faset kyk (en kritiseer).

♦ Kom ons vergeet nou maar van die kritiek op Heyneke Meyer. Soos die manne, hier en oorsee, wat die spel ken, ontleed en gedurig daaroor dink, besef Meyer ongetwyfeld ook drieë-druk by die Wêreldbekertoernooi is welkom maar eindelik ondergeskik aan akkurate skopwerk, ervaring, dissipline en verdediging.

Hieronder wys ons op die skaarste van drieë in eindstryde; en op die ouderdomme van die spanne wat die Webb Ellis-trofee gewen het se sleutelspelers. En ook op die ou All Blackspan.

Ná twee eindstryde, wat die Springbokke albei gewen het, het nóg Suid-Afrika nóg sy twee teenstanders, Nieu-Seeland in 1995 (SA wen 15-12) en Engeland in 2007 (SA wen 15-6) ’n drie gedruk. Skopwerk het in albei gevalle die deurslag gegee.

Voorts: In die laaste vyf eindstryde sedert 1995 toe die Springbokke die eerste keer in `n Wêreldbeker gespeel het, is daar `n totaal van net ses drieë gedruk. Australië het in 1999 twee keer gedruk, die enigste span wat dit sedert 1995 reggekry het.

Maar selfs tóé het die skoen oorheers. Australië het 35-12 teen Frankryk gewen. Die wentelling het bestaan uit sewe strafdoele en die twee verdoelde drieë. Frankryk het vier strafdoele oorgeskop.

In 2003 het Engeland en Australië elk een drie gedruk toe die Noordelike halfrond hulle eerste (en enigste) titel gewen het. So was dit ook in 2011 toe die All Blacks Frankryk 8-7 geklop het en albei spanne net een drie kon druk.

♦ Heyneke Meyer word deur leuenstoel-kritici uitmekaar gehaal oor die ou manne wat hy nader trek. Maar Meyer is darem nie heeltemal so dom as wat deur dié klomp uitgemaak word nie.

Hy besef ervare manne is die antwoord in die taai toernooi. Die All Blacks ook, en het vanjaar, soos in 2011, weer swaar op die ouer manne geleun in die 41-tal wat Steve Hansen aangekondig het vir hulle wedstryd teen Samoa, die Rugbykampioenskap en die ekstra wedstrtd teen die Wallabies.

Die All Blacks is vanjaar die oorweldigende gunstelinge om die titel te wen. In Hansen se groep is daar “ou” manne, ondermeer steeds waarskynlik die wêreld se beste senterpaar.  Conrad Smith is nog een van die voorste drie senters ter wêreld (hy word twee weke na die Wêreldbeker 34) en sy sentermaat is Ma’a Nonu (33).

Daar is ook nog  Kevin Mealamu (36), Richie McCaw (35), Dan Carter (33), Ben Franks (31), Kieran Reid (hy word 31 drie weke na die toernooi) Wyatt Crockett (32), Tony Woodcock (34) en les bes Sonny Bill Williams(30) in die groep.

Smith en Nonu is albei ouer as Jaque Fourie (32) wat drie maande gelede verjaar het en oor wie se ouderdom daar die week `n bohaai was.

Dis nie ál die All Blacks se oues nie, maar darem `n aanduiding van die kern. (En sommer terloops, in 2011 was hulle slot Brad Thorne al 36 en Ali Williams 30, plus die manne hierbo genoem wat toe darem vier jaar jonger was)

Kyk maar na die span van Engeland wat in 2003 gewen het. Ondermeer was daar hardebaard soos die kaptein Martin Johnson (34), Mike Catt (32),  Lawrence Dallaglio (31), die senter Will Greenwoord (30), Neil Back (34) en Richard Hill (30).

Die lostrio Dallaglio, Back en Hills se gemiddelde ouderdom was 32.

♦ Jake White het in 2007 `n jongeling Frans Steyn (19) ingesluit, maar daar was ook `n paar hardebaarde ingesluit. Os du Randt het 12 jaar voor dié toernooi, in 1995, in sy eerste Wêreldbekertoernooi gespeel en was in 2007 reeds 35.  Percy Montgomery,  wat 12 van die Bokke se 15 punte in die 2007-finaal aangeteken het, was 33 en die volgende jaar met sy laaste toets 34.

Die res van die span was almal gesoute manne met `n paar jaar se Superrugby en heelwat toetse agter die rug.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hanno ·

Wat het geword van die moontlike terugkeer van toekantflank Juan Smith uit Frankryk?

Johan ·

Soos altyd klou heynecke meyer, ja met klein letters, vas aan ou manne en manne wat oorsee speel en hy homself nie eens vergewis het van hul standaard nie. Dit wys jou net die onsekerheid in homself en sy vermoeens. Swak meyer. Uiters swak. Dank Vader hy is na wereldbeker ook gefaks. Hy moes nooit daar gewees het nie. Ons gaan nie eens die semi finale haal met meyer se afgetredenes nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.