Driekuns, 12-tal en nóg vir Jersey se SA ysters

Jason Worrall – driekuns. (Foto: YouTube)

Suid-Afrikaners het onder meer ʼn driekuns en ʼn twaalftal punte in die Jersey Reds se sege van 52-19 oor London Scottish in die jongste ronde van die Engelse Kampioenskap op die telbord geplaas.

Jason Worrall (regtervleuel), ʼn gewese SA o.20- en WP o.21-speler, het drie drieë gedruk; en Brendan Cope (losskakel), wat o-21-rugby vir die Sharks gespeel het, het ses van die wenspan se nege drieë verdoel.

Scott van Breda (heelagter), ʼn gewese Superrugbyspeler van die Kings en die Stormers, en Roy Godfrey (plaasvervanger-loskopstut), wat Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel het, het elk ʼn drie gedruk.

Om die kroon te span, word die Reds – tans vierde uit 12 spanne in die reeks – deur Harvey Biljon afgerig, wat onderouderdomrugby vir die Sharks gespeel het.

Pro14-liga

♦ Suid-Afrikaners het ál Edinburg se punte in sy sege van 12-6 oor Munster in die Pro14-liga aangeteken.

Duhan van der Merwe (linkervleuel) het twee drieë gedruk, en Jaco van der Walt (losskakel) het een daarvan verdoel.

Van der Merwe is ʼn gewese SA o.20-speler wat vir die Blou Bulle in die opstelronde van die Curriebeker gespeel het; en Van der Walt het Superrugby vir die Lions gespeel.

Franse Top14-liga

♦ In Racing 92 se oorwinning van 28-22 oor Stade Français in die Franse Top14-liga het die Springbok Pat Lambie (plaasvervanger-losskakel) drie doelskoppe vir die wenspan, en ʼn ander Bok, Morné Steyn (plaasvervanger-heelagter), ʼn strafdoel vir die verloorders behaal.

Lambie het die All Black-legende Dan Carter in die 45ste minuut vervang.

♦ In Oyonnax (13de) se verrassende sege van 29-26 oor die vierde geplaaste Toulon het die opkomende Springbok Steven Sykes (plaasvervanger-slot) die wendrie in die 79ste minuut gedruk.

Die Bok Marcel van der Merwe (vaskopstut) het ʼn drie vir Toulon gedruk.

♦ Castres se oorwinning van 37-27 oor Brive het ʼn drie ingesluit deur Rory Kockott (skrumskakel), ʼn Franse toetsspeler wat Superrugby vir die Lions en die Sharks gespeel het.

Sy spanmaat Robert Ebersohn (buitesenter), ʼn gewese SA o.20-speler en Blitsbok, is met ʼn geel kaart gestraf.

♦ Tian Schoeman (losskakel) het ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir Bordeux Bègles in sy sege van 15-10 oor Agen behaal.

Hy het Superrugby vir die Bulls gespeel.

♦ Die Bok Frans Steyn (losskakel) het ʼn doelskop vir Montpellier in sy neerlaag van 14-12 teen Toulouse deur die pale gejaag; en sy spanmaat Paul Willemse (slot), ʼn gewese Bulls-speler, het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Franse Pro D2-liga

♦ Danré Gerber het twee strafdoele vir Mont de Marsan teen Grenoble aangeteken.

Laasgenoemde het die kragmeting met 19-13 gewen.

Gerber, wat Curriebekerrugby vir die Boland gespeel het, is die seun van die Boklegende Danie Gerber.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.