Driekuns, kaarte en drama op Loftus

Die Blou Bulle het die Pumas met 31 – 26 op Loftus Versfeld geklop. Foto: GB Jordaan.

Die Blou Bulle het gisteraand ’n begeesterde Puma-span met 31 – 26 op Loftus Versfeld geklop om hul plek op die Curriebeker-punteleer te verstewig.

’n Maklike oorwinning was dit egter gewis nie – die Laevelders het met vuur en aggressie gespeel, terwyl Sebastian de Klerk drie keer die tuisspan se doellyn oorgesteek het.

Veral sy tweede drie was ’n juweel: Die Bulle was op die aanval in die besoekers se doelgebied, maar ’n verdwaalde aangee is deur die Pumas opgeraap en De Klerk het sy ore platgetrek om teen die verloop van die spel ’n puik drie af te rond.

Teen rustyd het Jimmy Stonehouse se span ’n voorsprong van 26 – 12 geniet.

Maar op Loftus weet die Bulle hoe om wedstryde te wen en hulle het 19 onbeantwoorde punte aangeteken om die kragmeting uiteindelik te beklink.

Tog gaan daar waarskynlik vandag in Nelspruit oor ’n paar van die skeidsregterbeslissings gepraat word. Daar was ’n magdom kaarte (geel en rooi), terwyl ’n Puma-drie ook nie in die tweede helfte toegeken is nie; iets wat altyd vir ’n vurige debat rondom die braaivleisvuur sorg.

Maar selfs met 14 spelers op die veld het die Pumas glad nie vir die hoogaangeskrewe Bloubulspan teruggestaan nie.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Strafdrie, David Kriel (2), Ruan Vermaak en James Verity-Amm. Doelskoppe: Morné Steyn (2).

Pumas: Drieë: Sebastian de Klerk (3) en Eduan Swart. Doelskoppe: Eddie Fouché (3).

  • Curriebeker-punteleer:
  1. Blou Bulle: 47 punte
  2. Cheetahs: 41 punte
  3. Haaie: 24 punte
  4. Pumas: 22 punte
  5. Griekwas: 21 punte
  6. WP: 13 punte
  7. Leeus: 5 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.