Driekuns vir Nico Lee in Kings se twaalfde neerlaag

Driekuns vir Nico Lee (Foto Pro14)

As die Southern Kings ʼn bokser was, was die geveg al lankal stopgesit.

ʼn Mens kan maar net kop skud oor die onvermoë van die Oos-Kaapse span om na ʼn ernstige mededinger in die Pro14 te lyk nadat hulle hul twaalfde uit twaalf wedstryde verloor het.

Die Cheetahs het die eerste van die twee spanne se drie derbies in die kompetisie Saterdag in die Baai met 45-21 gewen. Hulle het nog ses drieë teen die Kings gedruk wat nou 67 drieë afgestaan en self net 23 in hulle 12 wedstryde gedruk het, en net vier ligapunte het.

Die kersie op die koek van ʼn span darem Saterdag probeer het maar nie op hierdie vlak hoort nie, was die laaste skrum, vyf meter van die Cheetahs se doellyn af. Die Oos-Kapenaars het, met die voordeel van 15 spelers teenoor 13 op die veld, die bal afgestaan en daarmee saam die kans van ʼn bonuspuntdrie verbeur.

Dit was ook allermins ʼn uithalervertoning deur die Vrystaatse span, wat eerskomende naweek in Bloemfontein, weer teen die Kings, heelwat beter sal moet speel om hulle spelpeil te lig en op koers vir die uitspeelrondes te bly.

Ja, die Kings het darem ʼn bietjie meer durf gewys, maar as jy rustyd met 7-24 agter is, is jy uit jou diepte. Ondanks drie geelkaarte teen die Cheetahs, waarvan twee soos verlede week tegelykertyd twee man van die veld af beteken het, kon die Kings nie munt uit hulle voordeel slaan nie.

Trouens, die Cheetahs het tydens die spelertekort twee keer gaan druk wat die senter Nico Lee se derde drie ingesluit het. Drieë druk is natuurlik nie noodwendig ʼn  aanduiding van vermoë nie, maar Lee se spel was ongetwyfeld ʼn hoogtepunt in die wedstryd.

Albei spanne het probeer hardloop, maar te veel hanteerfoute en albei se spanne se glipse op die verdediging het veroorsaak dat die wedstryd nie groot hoogtes bereik het nie.

Noemenswaardig is dat Fred Zeilinga, in sy 50ste wedstryd vir die Cheetahs, met sewe uit sewe skoppe pale toe geslaag het.

Puntemakers –

Kings (7) 21: Drieë: Yaw Penxe, Eitel Bredenkamp, Stefan Coetzee. Doelskoppe: Oliver Zono (3).
Cheetahs (21) 45: Drieë: Clayton Blommetjies, Nico Lee (3), Shaun Venter, Jacques du Toit. Doelskoppe: Fred Zeilinga (6). Strafdoel: Zeilinga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

juan ·

Merkwaardig, 2018 het skaars begin en nog n rekord spat – seker die Kings se 12de verloor in n ry is een of ander rekord.

Nico K ·

Julle behoort meer simpatie met die Kings te hê. Hulle het nogal teenstand gebied in die super reeks. Maar niemand het geweet hulle gaan Pro 14 speel nie en toe het al hul beste spelers reeds kontrakte met ander spanne gekry. (Anders sou hulle moes B-afdeling Curriebeker rugby speel.) Miskien kan hulle bietjie werwing doen voor die volgende reeks want nou is hulle voorbereid daarop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.