Drienasies: All Blacks vergruis die Poemas

(Foto: AllBlacks/Twitter)

Daar bestaan nie iets soos ʼn swak All Blacks-rugbyspan nie. Dit het die Nieu-Seelanders Saterdag in Newcastle, Australië, bewys toe hulle Argentinië met 38-0 in hul laaste Drienasiestoetswedstryd opgefrommel het nadat hulle rustyd net met 10-0 voor was.

Maar die grondslag is voor rustyd gelê, want die Poemas was toe reeds uit op hul voete, hulle kon nie al die gate toestop nie, hulle kon nie net op verdediging staatmaak nie.

Uiteindelik moes hulle 149 duikslae teenoor 44 uitvoer en het hulle 24 duikslae verbrou.

Die voordeur is nou oop vir die All Blacks om die reeks te wen, want ná hul bonuspuntsege het die All Blacks nou 11 ligapunte en ʼn punteverskil van +64.

Die Poemas en Wallabies het albei ses ligapunte en sluit aanstaande Saterdag hul reeksbepalings in Sydney af. Maar die Poemas het ʼn negatiewe punteverskil van -28 en die Wallabies -36.

Die kanse dat hulle die All Blacks kan onttroon, is byna nul, want hoe gaan die Wallabies die Poemas met ʼn punteverskil van 100 punte klop? Hoe gaan die Poemas, was reeds vuisvoos is, dit regkry om die Wallabies met 92 punte klop?

Die All Blacks het behoorlik wraak geneem nadat hulle twee weke gelede deur die Poemas geskok is en ook teen die Wallabies verloor het.

Hulle het in ʼn gemaksone verval, hulle het nie geweet watter patroon om suksesvol te volg nie.

Maar Saterdag het hulle na hul tradisionele sterkpunte teruggekeer.

Hulle het die Poemas gewurg, hulle het die Argentyne in die skrums verfomfaai, besit en gebiedsvoordeel oorheers en vyf drieë gedruk.

Die Poemas se skakelpaar van Felipe Ezcurra en Nicolás Sánchez het onder druk gevou en die buitespelers moes met net ʼn paar krummels tevrede wees.

Daarteenoor het All Blacks gedy, hul dissipline (behalwe reg teen die einde toe Tyrel Lomax in ʼn teenstander met die voorarm bygekom het) was vlekkeloos, hul hantering en ondersteuning was puik, en die voor- en agterspelers het saam gebaljaar.

Dit was All Black-rugby soos ons dit leer ken het.

Punte: Nieu-Seeland 38 (10): Drieë: Dane Coles, Ardie Savea, Will Jordan (2), Patrick Tuipolutu. Doelskoppe: Richie Mo’unga(5). Strafdoel: Mo’unga.

Argentinië 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Die Wolf ·

In my opinie is die kompetisie n klug. Die Poemas is hoe lank van die huis weg en die AB het lekker gerus. Is hulle werklik so goed?

Frans ·

Stem saam-daar is geen rugbyspan in die wêreld wat vier strawwe toetswedstryde namekaar kan speel.Covid-19 het ook die kompetisie skeef getrek en moes die Pumas noodgedwonge baie veranderinge aan die span maak.

MakersMark ·

Die All Blacks was gemiddeld in die wedstryd. Die Pumas was swak. Planne nie gewerk nie, duikskae gemis, aanslane ens. En hul het in 2 naweke een gewen en en gelykop gespeel so hul sal dit moeilik vind om week na week te wen. Dink England op huidige vorm sal die AB’s klop. Haka raak afgesaag en spelers probeer elke weergawe meer wreed en vreesaanjaend lyk. Begin nou lyk soos klomp skoolkinders wat skewebek trek in die klas. Moet die AB’s krediet gee met die Nr 10 AB trui met “Maradona” op die rug was fantastiese sportmanskap.

Jackie ·

Stem saam oor die haka. Al wat Nieu Seeland se skole span is wil dit ook doen.

MakersMark ·

Stem saam. Niks fout met dit nie maar ongelukkig begin dit lyk of dit AL is wat die kultuur verteenwoordig. Dit word te veel gedoen en die impak daarvan gaan verlore en daarom word daar elke paar weke ‘n meer wrede weergawe gedoen met langer tonge, leliker gesigte en meer bloeddorstige geluide. As hul dit herdink en die tradisie hernu kan dit weer word wat dit oorspronklik was.

Michelle ·

Ek is jammer maar ek dink nie as Suid Afrikaner kan ons kommentaar lewer op ‘n tradisie van ‘n ander land nie. Ons weet nie wat dit vir hulle beteken nie.
En ja die skole doen dit ook, dit is deel van wie hulle is. As julle nie daarvan hou nie, moet dit nie kyk nie.

MakersMark ·

Wat het “as Suid Afrikaner” met kommentaar oor die haka uit te waai ? Net soos sekeres dit goed vind is daar ander wat dit belaglik vind. Veral as dit al hoe belagliker uitgevoer word om hopelik die teenstanders te intimideer, tradisie of volkgebruik of watookal. Maar my kommentaar sal nie die AB’s stop om dit te doen nie en ek verwag dit ook nie. Dat ek dit belaglik vind bly my opinie. Net soos jy joune het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.