Drienasies: Wallabies en Poemas deel die louere

(Foto: Wallabies/Facebook)

Die agterdeur is steeds oop vir die All Blacks om vanjaar as Drienasies-kampioen gekroon te word. Saterdag se toetswedstryd in Newcastle tussen die rugbyspanne van Australië en Argentinië het met 15-15 gelykop geëindig nadat die Wallabies rustyd met 9-6 voor was.

Al drie spanne het nou ses punte en as die All Blacks komende Saterdag die Poemas (ook in Newcastle) verslaan, kan hul positiewe punteverskil, wat reeds 26 punte is, nog die deurslag gee.

Die Poemas het nog twee wedstryde oor teen die All Blacks en oor twee weke weer teen die Wallabies.

Kom ons wees eerlik, hul stoom is besig om op te raak. Die inspanning om maande lank weg van die huis af te wees, die nagevolge van positiewe Covid-19-toetse en ʼn rits beserings aan sleutelspelers begin al hoe meer die tol eis.

Ek glo nie die Poemas sal in staat wees om vier weke agtereenvolgens teen dieselfde tempo te speel nie, want hulle het Saterdag al begin uitrafel. Maar wie sou ook kon dink dat hulle verlede Saterdag die All Blacks se onderrok met ʼn sege van 25-15 sou laat uithang?

Die Poemas en Wallabies pak mekaar die week daarna wat die reeks sal beslis.

(Foto: Wallabies/Facebook)

Saterdag se kragmeting was ʼn stryd tussen die twee losskakels, die Poemas se Nicolas Sanchez en die Wallabies se Reece Hodge.

Sanchez, wat met een strafskop misluk het, het weer al sy span se punte aangeteken nadat hy verlede week teen die All Blacks met 25 punte in die kol was.

Hodge kon die Wallabies teen die einde laat wen het, maar hy het skeef gekorrel.

Dit was slegs die tweede keer dat ʼn toetswedstryd tussen die Wallabies en Poemas gelykop geëindig het. Die laaste keer was in 1987, 33 jaar gelede in Buenos Aires, toe die telling 19-elk was.

Die Poemas-losskakel Hugo Porta het toe 15 punte aangeteken (vier strafdoele en ʼn skepdoel).

Punte:

Australië 15 (9); strafdoele: Reece Hodge (5).

Argentinië 15 (6); strafdoele: Nicolas Sanchez (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Nog ‘n kompetisie wat so skeef getrek is , is dat dit moeilik is om te verstaan. Nietemin hoed af vir Poemas,wat in 4 weke 4 toetswedstryde teen uitgeruste spanne moet speel.Volgende week die All Blacks,dan die Aussies.
Dink die organiseerders werklik dat ‘n span berg Everest 4 weke namekaar kan uitklim?.

TinieBergh ·

Hoe dit ookal is, hoede af vir die Argentyne wat ten minste probeer, en dalk net goed belê vir die jare vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.