Drienasies: Wallabies en Poemas deel weer die louere

Australië se Nic White gee die bal aan. (Foto: David Gray/AFP)

Daar is sekere rugbyspelers wat sekerlik snags nagmerries kry.

Reece Hodge is binnekort een van hulle.

Hodge, wat die afgelope paar jaar in elke agterlynposisie behalwe skrumskakel vir die Wallabies gespeel het, kon die Aussies Saterdag in Parramatta in Sydney in hul laaste Drienasiestoets teen die Argentynse Poemas laat wen het.

Hodge kon in Oktober ook die Wallabies teen die All Blacks laat wen het, maar sy laaste strafskop het nie die kol getref nie en die wedstryd het met 15 elk gelykop geëindig.

Twee weke gelede in Newcastle kon Hodge die Wallabies teen die Poemas laat wen het, maar sy beslissende strafskop het die regoppaal getref. Dié wedstryd het ook met 15 elk gelykop geëindig.

Saterdag in Parramatta kon Hodge weer die Wallabies laat wen het, maar weer was sy laaste strafskop ook rakelings mis. Die uiteinde: Die kragmeting het met 16 elk gelykop geëindig.

Daar was vanjaar weens die Covid-19-pademie geen ander keuse as om Desember rugby in die Suidelike Halfrond te speel nie.

Saterdag was die tafel gedek vir ʼn feesmaal, maar toe speel die weergode nie saam nie, want dit reën (sommer baie ook) in die somermaande.

Dis krieketweer, nie gepas vir rugby nie.

Die skouspel is bederf deur ʼn magdom foute weens die nat veld, glibberige bal en boonop drie geelkaarte (die Poemas se Marcos Kremer en Lucas Paulos en die Wallabies se Michael Hooper) en ook ʼn rooikaart aan die Wallabies se plaasvervangerslot Lukham Salakaia-Loto.

Reg of verkeerd, die spelers is skuldig daaraan dat hulle nie hul arms gebruik nie en te maklik hoog vat.

Albei spanne het in die vreemde toestande probeer om die bal te rek en om drieë te druk, maar dalk moes hulle die spel takties in ʼn 10-manpatroon verander het. Dis tog hoe jy op ʼn nat veld speel; dis tog hoe jy wedstryde wen wanneer jy jou foute beperk.

Die gelykopuitslag beteken dat die All Blacks die reeks gewen het nadat hulle 11 punte verower het en die Wallabies en Poemas albei 8 punte ingesamel het.

Ironies was die vorige kragmeting tussen die Wallabies en Poemas ook gelykop.

Punte: Australië 16 (6): Drie: Michael Hooper. Doelskop: Reece Hodge. Strafdoele: Hodge (3).

Argentinië 16 (13): Drie: Bautista Delguy. Doelskop: Domingo Miotti. Strafdoele: Miotti (2), Nicolas Sanchez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.