‘Dronk’ James O’Connor uit die Wallabyspan

imagesCAF41SS7James O’Connor, sterspeler van die Australiese Wallabies, sal vir ‘n onbepaalde tyd nie beskikbaar wees vir insluiting in die nasionale span nie na ‘n insident op die Perthse lughawe.

O’Connor was na bewering dronk toe hy en sy vriendin ‘n vlug na Bali wou neem kort na Wallabies se oorwinning van 14-13 oor Argentinië in Perth.

Die Australiese Rugbyunie (ARU) het in ‘n verklaring gesê O’Connor is aangesê om onbepaald te rus “omdat hy nie die gedragskode en kulturele waardes van die span eerbiedig het nie.”

Dit blyk dat die hoofafrigter sy hande vol het met die jong Wallaby, “Ek moet verantwoordelikheid aanvaar vir die span se voorkoms en ek is baie streng op dissipline. Dit blyk dat daar periodiek ‘n paar insidente is wat hom pootjie, maar hy bly ‘n goeie speler.”

Hy word vervang deur die onervare Waratahsspeler Peter Betham.

Die instruksie om te “rus” mag O’Connor se 2014 Superrugbykanse beduiwel, wat hom sal laat oorweeg om oorsee te gaan speel.

James Horwill het gesê dat hulle baie teleurgesteld in O’Connor se gedrag is want dit kom op ‘n kritiese tyd in Australiese rugby.

“Die span streef goeie oordeel en waardes na as verteenwoordigers van die land. Ons het ‘n gedragskode wat van-die-veld-af gedrag insluit. Die span is net so teleurgesteld in sy gedrag.”

O’Connor het ‘n geskiedenis van wangedrag. Hy het in Junie drie dae voor die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus tot 04:00 rondkerjakker. Hy het ook die spanbus verpas vir die derde toets en in 2011 was hy geskors nadat hy verslaap het vir die aankondiging van die Wêreldbekerspan en die spanfoto.

Die Wallabies vertrek binnekort na Argentinië en Suid-Afrika vir die laaste been van die Rugbykampioenskapsreeks.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.