Droomwedstryd vir geleende Bok in Engelse liga

ʼn Springbok wat buiteseisoens aan ʼn Engelse klub geleen word, het Saterdag ʼn droomwedstryd vir sy span in die Engelse Premierliga beleef.

Robert du Preez het 17 van Sale se punte aangeteken in sy sege van 27-10 oor Bristol. Hy het met ʼn doelskop en vyf strafdoele geslaag.

Du Preez en sy broer Jean-Luc is onder die Suid-Afrikaanse spelers wat deur hul franchise’e aan Engelse klubs geleen word.

Sale, wat deur die gewese Bulls-kaptein Jono Ross aangevoer word, het Bristol met dié oorwinning op die punteleer verbygesteek.

♦ Nóg ʼn Bok, Cobus Reinach (skrumskakel), het een van Northampton se twee drieë in sy sege van 32-6 oor Worcester gedruk nadat hy ʼn aangee van sy onmiddellike teenstander, die Bok Francois Hougaard, onderskep het.

Franse Top14-liga

♦ Twee Suid-Afrikaners het die enigste twee drieë in Grenoble se sege van 17-16 Saterdag oor Montpellier in die Franse Top14-liga gedruk.

Die Bok Raymond Rhule (regtervleuel) het vir die wenspan gedruk, en die gewese Bulls-speler Jacques du Plessis (agsteman) vir die verloorders.

♦ ʼn Gewese Bolander, Bernard le Roux (flank), wat toetsrugby vir Frankryk speel, het een van Racing 92 se tien drieë in sy oortuigende oorwinning van 64-28 oor Perpignan gedruk.

Franse Pro D2-liga

♦ Hansie Graaff (heelagter) se strafdoel in die 72ste minuut van hul kragmeting in die Franse Pro D2-liga het Massy verrassend in staat gestel om met agt elk gelykop teen Soyaux-Angolême te speel.

Laasgenoemde is tien plekke bo Massy op die punteleer.

Graaff het as losskakel Curriebeker-rugby vir die Griffons en Suidwestelike Distrikte gespeel.

♦ Willie du Plessis (losskakel) het ʼn drie vir Bayonne gedruk, en Tristan Tedder (bankheelagter) het ʼn strafdoel behaal in hul span se nederlaag van 16-21 teen Provence.

Du Plessis het die Cheetahs in Superrugby verteenwoordig, en Tedder het vir die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker gespeel.

♦ AJ Coertzen (banksenter) het ʼn strafdoel vir Aurillac teen Carcassonne behaal, in ʼn wedstryd wat laasgenoemde met 39-35 gewen het.

Coertzen het eweneens Superrugby vir die Bloemfonteinse franchise gespeel, en Griekwas se poublou in Curriebeker-rugby gedra.

Pro14-liga

Jarryd Sage (binnesenter), wat verlede jaar vir die Kings gespeel het, het die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons se enigste drie in sy nederlaag van 16-19 teen sy eweknie Cardiff Blues gedruk.

ʼn Spanmaat, die Bok Zane Kirchner (heelagter), is met ʼn geel kaart gestraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.