Druk op die Blitsbokke in Kaapstadse toernooi

Dis miskien verkeerd om in dié stadium van die Wêreldrugby-sewesreeks na die Blitsbokke se ontwikkeling as ʼn nuwe eenheid as ʼn regruk-aksie te verwys, maar die druk is tóg van Saterdag af in die Kaapstadse toernooi op hulle.

Suid-Afrika, sonder ses van sy spelers wat hul heenkome in die vyftienmankode gaan soek het waar daar meer geld en glorie is, het die afgelope naweek die verdediging van hul reekstitel in Dubai stadig en teleurstellend teen gedugte teenstand afgeskop.

Die gevolg was ʼn sesde plek en ʼn ongehoorde drie uit ses neerlae in ʼn toernooi vir die Blitsbokke, wat die afgelope twee seisoene die sewesreeks en ook die Dubai-toernooi gewen het.

Met hul eina-wegspring is hulle nou sommer dadelik tien reekspunte agter die Dubai-kampioenspan, die All Blacks, wat een van die drie teenstanders in die Blitsbokke se groep A in Kaapstad is. Die ander twee spanne is Samoa, teen wie die Blitsbokke in Dubai in hul groepwedstryd moes uithaal voordat hulle met 19-12 gewen het, en Zimbabwe.

Van die ander groepe lyk dié waar Engeland saam met Fidji geloot is, na die interessantste. Engeland was bitter ongelukkig om nie die eindstryd te haal nadat hulle moontlik die beste span was, maar net eenvoudig nie in die halfeindronde teen die All Blacks kon deurdring nie.

Fidji het in ekstra tyd in die uitspeel om vyfde plek die wenpunte teen die Blitsbokke behaal, maar is, soos altyd, ʼn gedugte teenstander. Dit gaan uithaal en keer van Engeland kos om groep C te wen.
In groep B is die VSA, eindstrydverloorder in Dubai, saam met Argentinië geloot wat nooit onderskat moet word nie.

Die Blitsbokke, mits hulle natuurlik eerste of tweede in groep A eindig, sal moontlik in die kwarteind met Australië of Skotland van groep D te doene kry.

Die groepe vir die Kaapstadse sewes ‒

A: Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Samoa, Zimbabwe
B: VSA, Argentinië, Spanje, Japan
C: Engeland, Fidji, Frankryk, Kenia
D: Australië, Skotland, Kanada, Wallis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Dit wys maar net weer dat spanne oor ‘n tydperk gebou word en dat die Blitsbokke nie dieselfde span is wat 2x die beste sewesspan was nie.Dit is onregverdig van enigiemand
om nou die vertonings as teleurstellend af te skryf,

‘n Mens moet jou hoed afhaal vir Powell en sy manne.Baie afrigters sou na so’n sukses
en met die verlies van 50% van sy spelers sy leidsel aan iemand anders oorhandig het. Afrigters word soos spanne en spelers altyd geoordeel en veroordeel op grond
van hul huidige en nie hul suksesvolle geskiedenis nie.

Hoop nie daar gaan nou weer ‘n klomp wysneuse en kommentators kom wat die Lions
die volgende seisoen uitmekaar gaan trek en kritiseer nie.Hulle en die Blitsbokke is in dieselfde bootjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.