Druk op die Blitse om Suid-Afrika weer rugby-trots te maak

Ai, hoe wens Allister Coetsee seker nie dat hy en sy Springbokke ook onder dieselfde druk was as die Blitsbokke die naweek in die Kaapstad-stadion nie!

Dit is die soort druk wat trots en vreugde bring wat die Blitsbokke moet verwerk. Coetzee en sy sukkel-Bokke móés eenvoudig wen om nie verder verguis te word nie, met die wete dat selfs ʼn oorwinning nie vreugde en trots by die ondersteuner sou aanwakker nie.

Die titel in Kaapstad is egter nog lank nie Suid-Afrika s’n nie. Dit is sport, en op die hoogste vlak een van die onvoorspelbaarste. In 14 minute kan selfs ʼn enkele fout jou duur te staan kom, met min tyd om reg te maak.

Maar, soos hulle verlede jaar bewys het toe hulle vyf van die tien toernooie gewen het, en nog drie keer in die eindstryd was, het Neil Powell-hulle die gehalte, die ervaring en die vasberadenheid, om nie van die selfvertroue te praat nie, om hulle tweede titel in Kaapstad te wen.

Hulle het dit voorverlede jaar vermag en is verlede jaar net-net deur Engeland in die eindronde getroef.

♦  Die Blitse het agterlangs die gevaarlikste aanvallers as individue en as span. Hulle het die werkesels voorlangs om by die afbreekpunte teen die veel groter teenstanders van spanne soos Fidji, Engeland en Nieu-Seeland mee te ding.

Soos verlede naweek in Dubai, toe hulle aanvanklik nie skerp was of met ritme gespeel het nie, kan dit hulle verdediging wees wat hulle sal deurtrek, soos hulle in die uitspeelwedstryde gemaak het ná vroeëre losheid in man-teen-man-situasies.

Daardie swermverdediging, en die struktuur van wie waar moet keer as daar gapings of ʼn man-oor ontstaan, gaan die ding doen. Plus die vaart, voorgevoel en opsies van die snellers.

♦  Dan moet ervaring ook nooit versmaai word nie. Chris Dry, ná Frankie Horne die man wat in die meeste toernooie (63, 304 wedstryde) gespeel het, Kyle Brown (59), Branco du Preez (56) en Cecil Afrika (54) is al deur die 50-merk. Snyman  staan reeds op 48.

Saam het die span reeds 458 toernooie agter die rug met ʼn gemiddelde van 38 toernooie per speler.

♦  Die Blitsbokke se teenstand in die groepfase is nie waffers nie. Kenia op sy dag kan moeilik wees, maar die manne van Afrika se ingesteldheid laat hulle te dikwels in die steek.

Frankryk het nie, soos verlede jaar, gelyk of daar iets ekstra by hulle arsenaal gevoeg is nie, en Rusland was verlede naweek uiters teleurstellend.

Verwag dat die Blitsbokke Saterdag eerste in die groep sal eindig, en dat hulle Sondag teen die tweede geplaaste span in groep D – heel waarskynlik Samoa of Kanada – in die kwarteind sal speel, met Fidji wat hierdie groep behoort te wen.

♦  Die toernooi begin Saterdag 10:15. Die Blitsbokke se wedstrydtye is 12:49 teen Rusland, 16:10 teen Frankryk en 19:56 teen Kenia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.