Druk op die skrum en Paige

springbok-logo croppedDaar is baie faktore wat ʼn toets kan bepaal, maar Saterdag op Loftus sal veral die Springbokke se skrumwerk en Rudy Paige se vertoning teen die Wallabies in die kollig wees.

Die Bokafrigter Allister Coetzee ontken dat die Springbokke vir die toets in die Rugbykampioenskap op ʼn kop-en-storm taktiek besluit het. ʼn Mens sal maar moet wag en sien, maar met twee meer konserwatiewe en taktiese spelers as skakels, lyk dit of Coetzee weer in sy gemaksone soos by die Stormers teruggetree het: vat voor was, speel konserwatief in die teenstanders se gebied met goeie skopwerk en maak staat op die skoen vir punte.

Dit lyk pluis. Onthou, dis ʼn moet-wen toets. Wat egter pla, is die vasvat voorlangs. Die Bokke se skrumwerk was dusver skaflik maar nie veel meer nie en hulle is in Brisbane deur die Wallabies oorskadu.

By die afbreekpunte, selfs sonder David Pocock, sal die Wallabies weer die beste daaraan toe wees. Francois Louw kry meer skuld as wat hy verdien vir die gesukkel in hierdie fase waar hy dikwels eerste by die bal is sonder steun van sy spanmaats.

Agter ʼn span sonder goeie besit sal Paige kleitrap. Hy maak nie vinnig skoon nie, en  het die geneigdheid om twee treetjies, veral as hy na die regterkant moet uitgee, te neem voordat hy laat loop.

Morné Steyn, ervare maar in ʼn nuwe kombinasie met Paige, sal onder meer druk wees as wat die Bokke nodig het om sy skopwerk akkuraat te doen. Die opstorm- taktiek van die Geeltruie gaan dus goeie besit deur die voorspelers en goeie oordeel van Paige noodsaak.

En om dit te verhoed, sal daardie goeie besit en beheer nodig wees om Steyn kan te gee om sy skoppe akkuraat te plaas en Israel Folau uit die prentjie te hou.

Tensy daar wondere die afgelope twee weke op die oefenveld verrig is, sal die verdediging weer lol as die Wallabies met Folau en Quade Cooper aan die loop gaan.

Ongelukkig was hierdie swakheid die sterkpunt wat die Stormers onder Coetzee ʼn gedugte dog vervelige span gemaak het.

Om te wen, moet die voorspelers voorlangs baasspeel. ʼn Mens hoop nie dis die geval nie, maar die druk om tuis te wen mag te veel wees vir ʼn bra gemiddelde Springbokspan wat steeds nie leiding kry om te weet hoe en waarheen nie.

Dit gaan taai wees, maar dan moet die voorspelers oral en 80 minute lank in beheer wees. Anders is daar nog ʼn eerste, naamlik dat die Wallabies na ses neerlae op Loftus eindelik wen.

Die spanne –

Suid-Afrika
15 Patrick Lambie, 14 Bryan Habana, 13 Jessie Kriel, 12 Juan de Jongh, 11 Francois Hougaard, 10 Morne Steyn, 9 Rudy Paige, 8 Warren Whiteley, 7 Teboho Mohoje, 6 Francois Louw, 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Eben Etzebeth, 3 Vincent Koch, 2 Adriaan Strauss (kapt.), 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Stephen Kitshoff, 18 Julian Redelinghuys, 19 Lood de Jager, 20 Willem Alberts, 21 Jaco Kriel, 22 Willie le Roux, 23 Lionel Mapoe

Australië
15 Israel Folau, 14 Dane Haylett-Petty, 13 Samu Kerevi, 12 Bernard Foley, 11 Reece Hodge,10 Quade Cooper, 9 Will Genia, 8 Sean McMahon, 7 Michael Hooper, 6 Dean Mumm, 5 Adam Coleman, 4 Rob Simmons, 3 Sekope Kepu, 2 Stephen Moore (kapt.), 1 Scott Sio. Bank (uit): 16 James Hanson, 17 James Slipper, 18 Tom Robertson, 19 Kane Douglas, 20 Scott Fardy, 21 Lopeti Timani, 22 Nick Phipps, 23 Tevita Kuridrani, 24 Sefa Naivalu

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andries Beyers ·

Ek stem saam dat Jantjes weggelaat is,maar dink dat Faf de Klerk dusver beindruk het en steeds die beste spelskepper is.

Josua Keys ·

Allister, groot as haal vir Warren uit die bok span uit stuur hom en die res van die Lions se spelers terug na hul unie bring vir Vermeulen terug op agsteman en reel dan met die span wat jy gekies het n wedstryd teen die Leeus ek belowe jou julle sal n pakslae van jul lewe kry, ek het regtig gehoop jy gaan n verandering ins SA rugby bring maar jy is erg besig om dit nou op te dons jy en jou afrigting span het nie ‘n idee wat julle doen nie en ek hoop Lorry Mains kom gou terug SA toe want ek belowe jou die bok span gaan heelwat anders lyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.