Druk teen Sharks nou éérs op Lions na Saders verloor

Die eerste deel van die vele permutasies is volbring. Maar die Lions se vernaamste taak lê nog laatmiddag Saterdag voor om al drie uitspeelwedstryde tuis te mag speel.

Al het die verdedigende kampioenspan die Hurricanes Saterdagoggend SA tyd met die onoorwonne Crusaders afgereken, 31-22, sal die Sharks en die Lions eers na hul wedstryd die middag weet wie hul kwarteind-teenstanders is.

Die Hurricanes het sonder hul spelskepper Beauden Barrett wat kort voor die wedstryd met ʼn virusinfeksie onttrek het en met die besering van die senter Vince Aso tydens die opwarmsessie, ʼn paar ontwrigtende skuiwe in die agterlyn gehad, maar het vir die Lions ʼn yslike guns bewys.

Die neerlaag vir hulle beteken dat die Crusaders steeds op 63 ligapunte staan – net twee meer as die Lions wat nog die wedstryd laat Saterdagmiddag in Durban teen die Sharks oor het.

Speel hulle gelykop, is die Lions se koppe deur omdat hulle punteverskil (305) heelwat beter as die Crusaders se 241 is.

In daardie geval speel die Lions en die Sharks, as die eerste en die agste spanne in die kwarteind, aanstaande naweek in Johannesburg, weer teen mekaar. Die Sharks, wen of verloor, bly agste in hierdie deurmekaar ligastruktuur van Sanzaar en speel dus teen die afdelingwenner met die meeste ligapunte.

Verloor die Lions, bly hulle die afdelingwenner met die tweede meeste ligapunte en sal die Sharks na Christchurch moet reis vir hulle kwarteind – nie ʼn ideale vooruitsig nie!

Soos sake na afloop van die stryd tussen die Hurricanes en die Crusaders staan, is die kwarteindwedstryde nou:
Crusaders vs Sharks
Lions vs Highlanders
Stormers vs Chiefs
Brumbies vs Hurricanes

Klop die Lions die Sharks, verander dit die kwarteindwedstryde na:
Lions vs Sharks
Crusaders vs Highlanders
Stormers vs Chiefs
Brumbies vs Hurricanes

♦  In die klipharde stryd waar die Crusaders 15 strafskoppe teen sewe afgestaan en daarmee die beheer aan die Hurricanes besorg het, is daar ʼn paar goeie drieë gedruk. Jordie Barrett, wat met sy broer se onttrekking na senter verskuif is en veral aanvanklik nie heeltemal oortuig het nie, se skopskoen was egter reg ingestel. Had hy teen die Britse en Ierse Leeus die skopwerk behartig, het die reeks b ander einde gehad.

In die taai wedstryd is egter minder hardlooprugby as gewoonlik gesien, en die opskietverdediging van albei spanne het, soos die Leeus, dit vir eenstanders moeilik gemaak.

♦  Saterdagoggend in Suid-Afrika is die Brumbies, die Australiese afdelingwenner, deur ʼn Highlandersspan wat glad nie goed gespeel het nie, met 28-10 afgeransel; en die Sunwolves het in Tokio agt drieë teen die Blues gedruk en met 48-21 gewen.

♦ Die Western Force het vyf keer gaan druk teen die Waratahs wat belangeloos voorgekom het om Australiese rugby se probleme te onderstreep. Die telling was 40-11

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

En die arme Stormers speel alweer teen die Chiefs op Nuweland…:-)

Nico ·

Soos hulle saterdag gespeel het sien ek moeilikheid vir die stormers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.