Druk weer op Pumas om Curriebeker uit te lig

Die druk is weer sterk op die Pumas om die kwynende belangstelling in die Curriebekerreeks aan die gang te hou.

Die Laevelders speel Vrydag in Nelspruit teen die Westelike Provinsie, en die besoekers sal vind dat die tuisspan geen katjie is om sonder handskoene te pak nie.

Ongeag die hulp van twee geelkaarte het die Pumas die voorloper, die Sharks, verlede week harde bene laat kou, en het hulle die vermoë en selfvertroue om met die WP af te reken.

As die Kapenaars wen, sal hulle die Vrystaatse Cheetahs (wat ʼn loslootjie het) uit die tweede plek op die punteleer lig.

Die Transjukskeiderby het heelwat van sy eertydse glans verloor, maar die Blou Bulle en die Goue Leeus se bittereinderondersteuners bly maar hoop op ʼn herlewing.

Die Goue Leeus is redelik op stryk en mik na ʼn plek tussen die boonste vier wanneer hulle die Bulle Saterdag op Ellispark pak, maar punteverskil bevoordeel steeds die Cheetahs, selfs as die Leeus vyf punte uit die wedstryd verdien – tensy hulle die Bulle met minstens 63 punte kan klop.

Wat die Bloues se afrigter John Mitchell (hy sê hy bou nog span) in só ʼn geval sal doen, wil ʼn mens nie eens aan dink nie.

Die Sharks behoort Vrydag selfs in Kimberley op ʼn drafstap teen die Griekwas te wen om sy eerste plek verder te versterk.

ʼn Sege vir die tuisspan sal die grootste verrassing tot dusver in die reeks wees.

Afskoptye –

Vrydag

17:00 Griekwas teen die Sharks, Griekwapark, Kimberley.

19:15 Pumas teen die WP, Mbombelastadion, Nelspruit.

Saterdag

17:15 Goue Leeus teen die Blou Bulle, Ellispark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.