Du Plessis was wraggies ‘Faf-tasties’

Faf du Plessis was op sy beste vir die Royal Challengers Bangalore. (Foto: Noah Seelam/AFP)

Die 2023‑weergawe van die Indiese Premierliga (IPL) het met die laaste swaai van Ravindra Jadeja se kolf tot ʼn einde gekom.

En as ʼn mens dinge in oënskou neem, het Faf du Plessis kop en skouers bo die ander Suid-Afrikaners uitgestaan.

Die voormalige Protea-kaptein het gewys dat 38 die nuwe 30 is en hy het met sy kolf- en veldwerk uitgeblink.

Hy het die tweede meeste lopies in die toernooi (730 in 14 kolfbeurte, teenoor Shubman Gill se 890 in 17 probeerslae) gemoker, terwyl hy die bal 36 keer oor die grenstou laat seil het.

Dit is die meeste sesse van al die kolwers.

Dan het hy saam met Virat Kohli 939 lopies aangeteken; ʼn prestasie wat slegs deur AB de Villiers en Kohli in 2016 geëwenaar is.

Om dinge vinnig op te som: Nie een van die ander Suid-Afrikaanse spelers kon 500 lopies aanteken nie. Heinrich Klaasen – wat ook ʼn baie goeie toernooi geniet het – het 448 lopies teen ʼn gemiddeld van 49 geslaan.

Maar nie David Miller (259 lopies), Aiden Markram (248 lopies) of Rilee Rossouw (209 lopies) kon by Du Plessis kers vashou nie.

Quinton de Kock (143 lopies teen ʼn gemiddeld van 35) het weliswaar in net vier wedstryde gespeel en die voormalige Aussie-speler, Tom Moody, meen dat hy hopeloos te min speelkans vir die Lucknow Super Giants gekry het.

Faf du Plessis. (Foto: Phil Magakoe/AFP.)

Volgens Dinesh Karthik moet die Protea-bestuur nie vir die volgende T20-Wêreldbeker wag om Du Plessis weer deel van die nasionale opset te maak nie – die komende Wêreldbeker in Indië (oor 50 boulbeurte) bied immers ʼn gulde geleentheid.

“Faf se uitstekende spelpeil het my glad nie verbaas nie. Hy is ʼn ongelooflike krieketspeler en vir die laaste vyf jaar is hy die bestendigheid vanself in die IPL. Hy was trouens vanjaar selfs beter as in die vorige toernooie,” het die Indiese speler in ʼn episode van The ICC Review gesê.

“Ek dink Suid-Afrika sal die pot mis sit as hulle hom nie nou saam na die Wêreldbeker neem nie. Ek dink hy is gereed. Hy is iemand wat ʼn verskil kan maak – as ʼn kolwer en as ʼn leier.”

Du Plessis het in sy outobiografie gesê dat hy nog vir ʼn paar seisoene sal wil speel.

“My eerste doelwit is om te speel tot ek 40 jaar oud is. Daarna wil ek ʼn breek vat, my skoene uitskop en dinge saam met my gesin doen. Maar ek kan nie sommer net my krieketbrein afskakel nie; dalk wag daar nog kommentator- of afrigterswerk vir my in die toekoms.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.