Duane dalk die katalisator wat die Bulls nodig het

Duane Vermeulen (Twitter @duane_vermeulen)

Een swaeltjie maak nie ʼn somer nie, maar die amptelike aankondiging dat die Sterk Springbok-agsteman Duane Vermeulen sy gewig by die Bulls ingooi, gaan maak dat die Pretoriase span in 2019 ʼn gedugte pak sal hê.

Die Blou Bulle Maatskappy het Vrydagmiddag bevestig dat die 32-jarige Vermeulen in Februarie by die Bulls sal aanmeld. Hy moet nog sy verpligtinge in Japan voltooi.

Vermeulen, wat voorheen vir die Pumas (26 wedstryde), die Vrystaat Cheetahs (28) die Cheetahs (20), die Westelike Provinsie (38), Stormers (89) en Toulon (68) gespeel het, het saam met sy 42 toetse en een wedstryd vir die Opkomende Bokke reeds 312 eersterangse wedstryde gespeel. Dit sluit sy huidige seisoen in Japan uit.

Sonder om jou gedagtes te ver te laat gaan, bring Vermeulen se krag en ervaring ʼn nuwe dimensie aan ʼn span wat van die ondergenoemde spelers kan insluit. Sy leierskap, moontlik as kaptein, sal ook vir die Bulls baie beteken.

Dit beteken natuurlik nie dat die Bulls sommer net sal kan opdaag en wen nie. Hulle sal die vroeë vorm van die afgelope SuperRugby-seisoen deurgaans moet handhaaf; hul geleenthede aangryp; en natuurlik hoop beserings kelder nie hul kanse nie.

Maar die kern is daar om in 2019 goed te vaar.

Voorspelers

Vermeulen sal saam met die Springbok flank Marco van Staden, wat verlede naweek teen die WP  een van die beste voorspelers op die veld was, en losvoorspelers wat Jannes Kirsten, Roelof Smit, Nick de Jager, Ruan Steenkamp, Thembelani Bholi en Hanro Liebenberg insluit, ʼn gedugte lostrio kan maak.

Die pak word aangevul deur die drie Bokslotte RG Snyman, Lood de Jager en Jason Jenkins.

In die voorry is daar die Springbokstut Trevor Nyakane, wat moontlik van sy gunsteling loskopkant na vaskop sal skuif, Lizo Gqoboko wat voor sy besering baie naby aan die Bokspan was en die ervare hakers Jaco Visagie en Edgar Marutlulle.

Agterlyn

Die agterlyn wemel ook van vaart en ervaring.

Op skrumskakel is daar die twee Springbokke, Ivan van Zyl en Embrose Papier en ook André Warner om van te kies; Handré Pollard en Manie Libbok is daar as losskakels; Jesse Kriel, die tans beseerde Burger Odendaal, Johnny Kotze, die Blitsbok Dylan Sage en JT Jackson, sal die middelveld kan beman; die Springbok-vleuels Travis Ismaiel en Jamba Ulengo, en ook manne soos Divan Rossouw en Duncan Matthews met die Springbok Warrick Gelant op heelagter, is ʼn heel skaflike agterste driehoek.

Daar is ook heelwat ander spelers wat by hierdie voor-die-hand-liggende kern gevoeg kan word en met die regte hantering en ruskans deurgaans vir ʼn stewige opdrafspan sal sorg.

Maar dit is natuurlik geen waarborg vir sukses nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Voorry Vakatures ·

Die Bulls kort ‘n behoorlike voorry. Sonder ‘n wereldklas nr2 en nog twee stutte van uitstekende gehalte, sal hulle tweede kom in die skrums. Ek dink ook hulle het nie uitstekende senters nie.

Albert ·

Ek stem volkome saam ons kort n vaskop wat sy man kan staan en n binne senter wat die spel kan lees om n gat te kan slaan en nie stampkar rugby speel nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.