Duane en Lood terug, maar Mostert lyk vir Bokke verlore

Duane Vermeulen – terug teen Engeland. (Foto: GB Jordaan)

Die vernaamste kenmerke van die voorlopige Springbok-oefengroep van 20 spelers wat Sondagmiddag bekend gemaak is, is die terugkeer van Duane Vermeulen en die “weglating” van Franco Mostert.

Dit is moontlik ʼn aanduiding dat Mostert nou moontlik as oorsese speler by Gloucester beskou word en hy sal nie ná 1 November vir die Springbokke mag speel as hy lid van ʼn Engelse klub is nie.

Nog ʼn positiewe insluiting saam met die beskikbaarheid van Vermeulen is die insluiting van die Bulls-slot  Lood de Jager, wat nog nie weer ná sy borsbesering in Mei gespeel het nie.

Beast Mtawarira is weens ʼn borsbesering nie beskikbaar nie, maar die veelsydige Trevor Nyakane is gekies. Hy was ʼn amperse sekere keuse weens sy veelsydigheid om aan albei kante te kan skrum.

Nyakane oefen reeds geruime tyd saam met die Bokke om sy fiksheid ná die ribbesering voor die eerste Junie-toets teen Engeland te herwin.

Nyakane het Saterdag vir die Blou Bulle in sy eerste wedstryd ná ʼn besering  100 minute lank goed aan die loskopkant teen Wilco Louw geskrum terwyl die Bulle se skrum soms aan die ander kant gewankel het en het in die vastelos ʼn bars gespeel om sy finale regmerkie te verdien.

Vermeulen het in Junie in die drie toetse teen Engeland gespeel voordat hy sy kontraktuele verpligtinge in Japan moes gaan nakom.

Daar word volhard met Schalk Brits as die derde haker, maar die ander haker-aanspraakmakers,  Akker van der Merwe en Chiliboy Ralepelle, is natuurlik nog by die Sharks betrokke.

♦ Die spelers wat Saterdag in die Curriebeker-eindstryd vir die Westelike Provinsie en die Sharks speel, is soos die oorsese spelers nie vir die oefenkamp die week op Stellenbosch oorweeg nie.

Die meeste van die spelers is reeds by die kamp wat op Stellenbosch gehou word.

Die span vir die jaareindtoer van vier toetse sal aanstaande Saterdag ná die eindstryd bekend gemaak word en in twee groepe na Londen vlieg.

Die Springbokke se eerste wedstryd is op 3 November op Twickenham teen Engeland. Hulle speel dan oor die volgende drie naweke teen Frankryk, Skotland en Wallis.

Springbok-oefengroep ‒

Voorspelers
Schalk Brits, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Siya Kolisi (kaptein), Frans Malherbe, Malcolm Marx, Trevor Nyakane, RG Snyman, Duane Vermeulen, Warren Whiteley.

Agterspelers
Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, André Esterhuizen, Elton Jantjies, Jesse Kriel, Embrose Papier, Handré Pollard, Ivan van Zyl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rinkhals ·

Die kerngroep lyk stukke beter. Net die Ellende en Jantjies wat geneig is om wisselvallig onder druk te wees. Die res van die span wat gaan toer gaan natuurlik die kwota doelwitte wees. Whiteley is daar om te help met die leierskap veral as die druk aan is. Jammer Faf is nie beskikbaar nie. Die moontlikhede op skrumskakel lyk maar papier dun.

Bokram ·

Ek kies eerder vir Franco bo Duane of Lood,dis n jammerte hy is uit

NIck ·

Nyakane jy moet maar seker n yster wees as jy vir 100min kan scrum in n 80 minute wedstryd ?

Sune van Heerden ·

Dagsê Nick

Dankie vir jou boodskap. Die wedstryd was ná 80 minute gelykop en twee helftes van 10 minute ekstra tyd is toe gespeel om te bepaal wie na die eindstryd deurdring.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

nico k ·

Iemand moet asb vir my verduidelik hoekom mag sekere oorsese spelers vir die Springbokke speel, maar ander, soos Franco Mostert, mag nie. Ek verstaan nie die reels nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.