Duane, Faf teen Aussies losgelaat

Duane Vermeulen. (Foto: GB Jordaan).

Om die een of ander rede sukkel die Springbokke alewig teen die Wallabies weg van die huis. Die Aussies het 25 van die 39 wedstryde op hul tuisveld gewen, terwyl hulle 200 meer punte aangeteken het.

Jacques Nienaber het egter nou ’n sterk Springbokspan gekies met spelers wat hulle hopelik nie te veel aan dié stand van sake sal steur nie – behalwe natuurlik as dit hulle motiveer om te wen.

Duane Vermeulen – die speler van die wedstryd in die 2019-Wêreldbeker-eindstryd – het van sy enkelbesering herstel om die agtsteman-pligte by Jasper Wiese oor te neem, terwyl Faf de Klerk ook weer in die beginspan is.

Voorlangs sal Frans Malherbe, Bongi Mbonambi en Steven Kitshoff ongetwyfeld hul man in die skrumsituasie kan staan, terwyl Eben Etzebeth weer saam met Lood de Jager in die lynstane sal rank.

Cheslin Kolbe sal egter die wedstryd ná ’n harde stamp teen die been misloop en sy regtervleuelskoene sal deur S’bu Nkosi volgestaan word. Dit is ’n gevoelige terugslag, want die Toulon-speler is ongetwyfeld die beste vleuel (selfs speler) ter wêreld.

Nienaber is egter opgewonde oor Vermeulen en kie. se terugkeer.

“Duane het ’n belangrike rol in ons spanvergaderings gespeel om die teenstanders te ontleed, terwyl hy ook van onskatbare waarde op die oefenveld was.

“Australië is gevaarlik met die bal in die hand en hulle speel voor hul tuisskare. Daarom is ek bly dat hierdie spelers terug is; hulle weet hoe om druksituasies te hanteer.”

Luke Pearce sal die skeidsregter wees, met Damon Murphy en Jordan Way sy twee assistente.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Franco Mostert (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Ox Nché, Vincent Koch, Marco van Staden, Kwagga Smith, Jasper Wiese, Herschel Jantjies en Damian Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokkie ·

Die gebruik deur sportverslaggewers in berigte dat ‘n speler ‘losgelaat’ gaan word, klink darem vir my alteveel oordrewe. Dit skep die indruk van ‘n gevaarlike dier of monster wat op hok gehou word en dan losgelaat gaan word om teenstanders af te maai. Ek hou nie daarvan nie.

Kerneels ·

Dis presies wat gaan gebeur wanneer Thor los gelaat word – of jy nou daarvan hou of nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.