Duane se Ulster klop Saints

Duane Vermeulen in aksie vir Ulster. Foto: Twitter.

Die vingeraflek-tweestryd tussen Duane Vermeulen (Ulster) en Juarno Augustus (Northampton Saints) in die Europese Kampioenebekerreeks, waarna rugbyondersteuners Vrydagaand reikhalsend uitgesien het, het toe nooit plaasgevind nie.

Augustus word in Kaapse kringe as Vermeulen se opvolger beskou, maar die tweestryd het niks opgelewer nie, want Augustus was verrassend nie in die Saints se beginspan in Belfast nie en is eers in die tweede helfte opgestuur toe Ulster reeds gerieflik voor was.

Vermeulen was oudergewoonte weer een van die ankers met sy fisieke dryfspel en ondersteuning in die vaste los.

Ulster het sy tweede opeenvolgende oorwinning in dié reeks behaal toe hy die Saints met 27 – 22 in ʼn volgepakte Kingspan-stadion geklop het.

Dit was die Saints se tweede agtereenvolgende nederlaag nadat hulle verlede week deur Racing92 verfrommel is.

Ulster was reeds in die tweede minuut voor toe die oud-Suid-Afrikaner Rob Herring (haker) die tuisspan se eerste drie gedruk het.

Ulster se ander drieë is deur Craig Gilroy en Ethan McIlroy gedruk terwyl die tuisspan ook ʼn strafdrie (sewe punte) ontvang het nadat die Saints se skrumskakel, Alex Mitchell, ʼn drie probeer keer het, deur ʼn Ulster-aangee vorentoe te klap.

Die Saints het darem ʼn bonuspunt verower toe die oud-Leeu-vleuel Courtnall Skosan ʼn drie kort voor die einde gedruk het.

Wedstryde deur pandemie geknou

Daar was Vrydagaand net een kragmeting in die Kampioenebekerreeks in Belfast nadat Leinster se wedstryd teen Montpellier weens Covid-19 gekanselleer is.

Montpellier het 28 punte vir die “oorwinning” ontvang.

Verskeie ander wedstryde in die reeks (Bath teen La Rochelle en Sale teen Clermont) het vanweë Covid-19 in die slag gebly en die organiseerders sit met die hande in die hare.

Daar was darem drie wedstryde in die Kampioenebeker-uitdaagreeks toe Toulon ʼn sege van 28 – 14 oor Zebre behaal het, Gloucester sewe drieë gedruk het in sy sege van 54 – 25 oor Benetton en Lyon die Dragons met 41 – 29 getroef het.

Die Worcester Warriors se kragmeting met Biarritz sal ook weens Covid-19 nie plaasvind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.