Duane uit vir al drie toetse teen Franse

Duane Vermeulen – uit die toetsreeks (Foto: stormersrugby.com)

Duane Vermeulen sal nie in die komende toetsreeks teen Frankryk speel nie.

Dit is ʼn geweldige slag vir die Springbokke om een van die voorste spelers in Europese rugby wat tans van sy beste rugby nóg speel, vir die reeks te verloor.

Vermeulen, wat die afgelope naweek eers 30 geword het, se fisieke teenwoordigheid saam met sy baldraende vermoë van afbreekpunte af, sal gewis teen die Franse met hulle groot pak gemis word.

Boonop sal sy voorgevoel wat hy as agsteman telkens gewys het, ook ʼn leemte laat.

Vermeulen word deur kenners saam met die All Blacks se Kieran Read, Frankryk se Louis Picamoles  en Sergio Parisse van Italië as van die wêreld se heel voorstes gereken.

♦  Vermeulen het hom Dinsdag by die Bokke in Pretoria aangesluit nadat hy Sondag in die eindstryd van die Franse Top14, waar hy die verloorspan Toulon aangevoer het, ʼn ernstige skouerbesering opgedoen het.

Hy is deur die Bokke se spandokter ondersoek en na ʼn skouerspesialis in Kaapstad verwys wat sal bepaal of Vermeulen ʼn operasie moet ondergaan.

♦  Vermeulen se besering beteken dat die span nou eintlik net met Frans Steyn en Francois Hougaard as oorsese spelers op die veld sal draf.

Die voormalige Stormers-loskopstut, Steven Kitshoff, het in Maart bekend gemaak hy is ná twee jaar klaar by Bordeaux en met Europese rugby, en dat hy in die toekoms sy rugby weer in Suid-Afrika sal speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.