Dubai-sewes: Blitsbokke in ʼn ander klas

Siviwe Soyizwapi van Suid-Afrika tydens ʼn vorige wedstryd teen Wallis in Las Vegas, Nevada (2 Maart 2018) (Foto: David Becker/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Afrigter Neil Powell en sy Blitsbokke het die Wêreldreeks op ʼn drafstap begin met ʼn klinkende oorwinning in die Dubai-sewestoernooi.

Die Blitsbokke het hulle derde agtereenvolgende toernooi gewen met ʼn oortuigende oorwinning van 42-7 oor die VSA in die eindstryd. Dit het nooit gelyk of een van die spanne die Suid-Afrikaners eers skrik gaan maak nie.

Dit was die Blitsbokke se vierde eindstryd in Dubai in vyf jaar. In die vorige eindstryd het hulle afgereken met Fidji (2016) en Nieu-Seeland (2017 en 2019). Powell se manne het nou al agt toernooie in die woestyn gewen.

Die span moes ook klaarkom met net 11 spelers wat wedstrydfiks is nadat Ryan Oosthuizen en Muller du Plessis beseer is. Verskeie ervare spelers het ook tuis gebly weens beserings.

Powell het gesê sy spelers sal nie op hulle louere rus nie. “Ons sal na ons spel kyk om te sien waar ons kan verbeter. Daar is altyd ruimte vir verbetering en ons sal hard op onsself wees om seker te maak ons is sielkundig en fisies voorbereid vir volgende naweek.”

Kaptein Siviwe Soyizwapi het gesê hy is trots op die spelers se spelpeil. “Ons is geseënd met ʼn paar uitstekende spelskeppers en ons het ʼn baie goeie balans, maar daar is altyd ruimte om te verbeter.”

Soyizwapi sê al speel hulle ver van die huis af en sonder toeskouers, weet hulle Suid-Afrikaners kyk vir hulle op televisie en staan bankvas agter hulle.

Volgende week se toernooi word in dieselfde stadion gespeel.

Puntestand in Wêreldreeks:

  1. Blitsbokke – 22 punte
  2. VSA – 19
  3. Argentinië – 17
  4. Fidji – 15
  5. Australië – 13

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.