Dubai-sewes: Blitsbokke kook in kwarteind

JC Pretorius (Foto: Twitter)

Die pad is vir die Blitsbokke byna uitgestippel om die eindstryd van die Dubai-sewestoernooi te haal nadat hulle Saterdagoggend in die kwarteindronde voortgebou het op hul sukses in Vrydag se groeprondes van Wêreldrugby se openings-toernooi van 2022.

Die Blitsbokke het Australië in die tweede kwarteindstryd met 26-5 oorrompel en kom in die halfeindronde teen Argentinië te staan, wat Ierland met 17-12 in bykomende speeltyd geklop het.

Die Argentyne moes baie diep delf voordat hulle die Iere kon onderkry en geoordeel aan die vertonings tot dusver, gaan daar net een wenner in die kragmeting tussen die Blitsbokke en die Pumas wees.

In die ander halfeindstryd kom die VSA, wat Brittanje uitgeskakel het, teen Fidji te staan, wat in die eerste helfte diep moes delf voordat hulle Kenia met 18-5 geklop het.

Die Blitsbokke troon (weer) kop en skouers bo die ander spanne uit en met Nieu-Seeland, wat nie in die toernooi speel nie, staan eintlik net Fidji in hul pad.

Soos ons jare gelede al daaraan gewoond geraak het, was die fiksheid, vaart, ondersteuning, hantering en goeie verdediging weer die hoekstene van die Blitsbokke se oorwinning.

Siviwe Soyizwapi, kaptein van die Blitsbokke, het twee drieë teen die Aussies gedruk, nadat die aanvoorwerk deur spelskeppers soos Selvyn Davids, Tiaan Pretorius, Branco du Preez en Ronald Brown gedoen is.

Punte: Suid-Afrika 29 (12): Drieë: JC Pretorius, Siviwe Soyizwapi (2), Selvyn Davids, Tiaan Pretorius. Doelskoppe: Ronald Brown, Branco du Preez.

Australië (5): Drie: Henry Hutchison.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.