Dubai-sewes: Blitsbokke span agtste keer die kroon

Foto: Springbok Sevens/Twitter

Die Blitsbokke het Saterdagmiddag hul heel beste vir laaste gebêre toe hulle Amerika verspot maklik met 42-7 in die eindstryd van Wêreldrugby se sewestoernooi geklop het.

Die Blitsbokke het die grootste telling nog in ʼn eindstryd aangeteken en die Amerikaners van hul voete af gehardloop, met Selvyn Davids, Ronald Brown en JC Pretorius die groot uitblinkers.

Brown het ʼn driekuns aan drieë behaal om aan die Blitsbokke hul 18de opeenvolgende oorwinning in die reeks en ʼn derde agteereenvolgende titel te besorg. Hy is as Speler van die Eindstryd aangewys.

Dit was die Blitsbokke se agtste titel in Dubai nadat hulle ook in 2019 daar baas was.

Die Amerikaanse Arende, wat Fidji in die halfeindronde geskok het, was planloos en loodvoetig.

Daarenteen het Brown en Davids met hul asemrowende systappe die Arende aan die slaap gevang.

Die Blitsbokke het Vrydag teen Ierland (28-7), Japan (52-12) en Brittanje (31-12) gewen.

Hulle het Saterdag in die kwarteindronde ʼn oorwinning van 29-5 oor Australië behaal, en Argentinië met 17-7 in die halfeindronde geklop voordat hulle Amerika afgeransel het.

Die Blitsbokke het in ses wedstryde 199 punte aantegeken en net 50 afgestaan en kop en skouers uitgetroon.

* Argentinië het Fidji in die uitspeelplek om die bronsmedalje met 19-12 geklop, terwyl die Aussies se vroue-span die goue medalje gewen het toe hulle Fidji in die eindstryd geklop het.

Punte: Suid-Afrika 42 (21): Drieë: Ronald Brown (3), JC Pretorius, Selvyn Davids, Shaun Willams. Doelskoppe: Brown (5), Branco du Preez.

VSA 7 (0): Drie: Lucas Lacamp. Doelskop: Steve Tomasin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.