Duhan en CJ onder Sesnasies se bestes

Duhan van der Merwe. Foto: Stu Forster/AFP.

Meer as ’n miljoen rugbyondersteuners het vir hul gunsteling-spanne in die pasvoltooide Sesnasies-reeks gestem. En twee Suid-Afrikaans gebore spelers tel onder die uitverkorenes in dié spanne.

Ierland se CJ Stander, wat vroeër sy uittrede aangekondig het, is op flank gekies, terwyl Skotland se Duhan van der Merwe die linkervleuel is.

Die 25-jarige Van der Merwe het nie net die meeste drieë (vyf) gedruk nie, maar ook die legendariese Brian O’ Driscoll se rekord verbeter.

O’Driscoll het in 2000 se reeks altesaam 30 verdedigers op sy eie geklop, terwyl Van der Merwe vanjaar 31 verdedigers na lug laat gryp het.

Volgens oorsese mediaberigte is Van der Merwe, ʼn George-boorling, een van die gunstelinge, saam met spelers soos Louis Rees-Zammit en Sam Simmonds, om vir die Britse en Ierse Leeus op vleuel uit te draf.

CJ Stander in aksie vir die Britse en Ierse Leeus gedurende hul toer na Nieu-Seeland. Foto: Michael Bradley/AFP.

Wales Online meen egter dat ’n paar blapse op verdediging teen Wallis en Frankryk nie vir Warren Gatland veel sou beïndruk het nie.

In ’n onderhoud met SA Rugby Magazine het Van der Merwe gesê dat hy die geleentheid om vir die Britse en Ierse Leeus uit te draf met albei hande sou aangryp.

“Ek sal ongetwyfeld vir hulle wil speel. Ek dink dit is een van die grootste eerbewyse in wêreldrugby.”

Op sy beurt is Stander een van die hardwerkendste spelers op die internasionale verhoog en dit sal gepas wees as hy sy loopbaan in die rooi van die Leeus-trui in sy geboorteland afsluit.

Span van die Sesnasies-reeks: Stuart Hogg (heelagter), Louis Rees-Zammit (regtervleuel), George North (buitesenter), Robbie Henshaw (binnesenter), Duhan van der Merwe (linkervleuel), Johnny Sexton (losskakel), Antoine Dupont (skrumskakel), Taulupe Faletau (agsteman), Hamish Watson (flank), CJ Stander (flank), Alun Wyn Jones (slot), Tadhg Furlong (stut), Ken Owens (haker) en Wyn Jones (stut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.