Duhan oorgehaal vir nóg kraglopies

Duhan van der Merwe. Foto: Vincenzo Pinto/AFP.

Ná sy driedruk-heldedade verlede naweek op Twickenham teen Engeland sal Duhan van der Merwe oorgehaal wees om op sy goeie vertoning voort te bou wanneer Skotland gasheer vir Wallis in ʼn Sesnasies-wedstryd in Edinburgh speel.

Die oudleerling van Hoërskool Outeniqua wat die skaal op 105 kg laat kreun en 1,93 m in sy sokkies staan, sal Saterdag weer eens op linkervleuel vir die Skotte diens doen.

Gregor Townsend het vertroue in sy Engeland-temmers getoon en die span grotendeels onveranderd gehou.

Die enigste verandering is in die voorry waar Zander Fagerson voldoende van sy dyspierbesering herstel het. Sy insluiting beteken dat die Suid-Afrikaans gebore WP Nel na die plaasvervangersbank skuif.

“Ons voel dat hierdie span nog ʼn kans verdien. Daar is goeie samespel onder die spelers, maar daar is beslis nog ruimte vir verbetering. Wanneer jy jou eerste wedstryd van die Sesnasiesreeks wen het jy altyd ʼn geleentheid om daarop voort te bou,” het die Skotland-afrigter gesê.

Die doedelsakspelers vaar egter nie té waffers in die tweede ronde van die toernooi teen Wallis nie – die Rooi Drake het immers in al twee van die vorige toetse as oorwinnaars van die veld gestap.

Jacques Nienaber en die res van die Springbok-bestuur sal veral Skotland se vertonings met belangstelling dophou – die twee spanne kruis immers op 10 September swaarde in hul openingswedstryd van die Wêreldbeker.

Engeland se Marcus Smith. Foto: Ian Kington/AFP.

Dan word daar uit Engeland berig dat Marcus Smith moontlik na die plaasvervangersbank sal skuif vir die Rose se wedstryd teen die Italianers.

Die Engelsmanne se losskakel en senters sukkel deesdae om behoorlik saam te werk en Smith se moontlike weglating kan dan die pad vir Owen Farrell gelyk maak om weer die no. 10-trui te dra.

Henry Slade en Ollie Lawrence kan dan die senterkombinasie vorm.

  • Bepalings:

Ierland teen Frankryk (Saterdag om 16:45)

Skotland teen Wallis (Saterdag om 18:45)

Engeland teen Italië (Sondag om 17:00)

  • Sesnasies-punteleer:
  1. Ierland: 5 punte
  2. Skotland: 5 punte
  3. Frankryk: 5 punte
  4. Italië: 1 punt
  5. Engeland: 1 punt
  6. Wallis: geen punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.