Duhan, WP in Skotland-groep

Duhan van der Merwe. Foto: Vincenzo Pinto/AFP.

Die persoon in beheer van die musiek op Murrayfield moet deesdae seker ook ʼn Suid-Afrikaanse keurspel byderhand hê wanneer Skotland in Edinburgh speel.

Vier Suid-Afrikaans gebore spelers – Duhan van der Merwe, WP Nel, Kyle Steyn en Pierre Schoeman – is in die Skotte se groep vir hul komende wedstryde teen Australië, Fidji, Nieu-Seeland en Argentinië ingesluit.

Van der Merwe, wat deesdae weer vir Edinburgh uitdraf, het al 19 wedstryde vir die Skotte gespeel,  terwyl Nel reeds in 48 toetse in die Skotse skrum gesak het.

Die opwindende Finn Russell sal egter nie deel van die aksie wees nie, terwyl Jamie Ritchie die kapteinskapleisels by Stuart Hogg sal oorneem.

Die twee agterspelers het vroeër vanjaar spanprotokol oortree toe hulle deel van die groep was wat Skotland se oorwinning teen Italië in Edinburgh se strate gaan vier het.

Volgens Gregor Townsend (afrigter) het Russell se weglating en Hogg se rangverlaging egter niks met dissiplinêre kwessies uit te waai nie.

“Dit is vir my belangrik om goeie spelpeil en bestendigheid te beloon. ʼn Speler soos Blair Kinghorn verbeter omtrent met elke wedstryd en hy lewer vuurwarm vertonings vir sy klubspan. Dit sal ʼn goeie uitdaging vir Finn wees om sy pad terug na die span oop te veg,” het Townsend gesê.

Die 49-jarige breier het bygevoeg dat hy opgewonde oor Ritchie se leierskapvermoë is, veral nadat die losvoorspeler ook deesdae Edinburgh op die veld lei.

“Jamie is die versinnebeelding van ʼn veglustige sportman, terwyl hy ook een van ons sleutelspelers is. Ja, Stuart was ʼn baie goeie kaptein, maar ek glo dat hierdie besluit die beste vir hom as ʼn speler sal wees; hy beskik immers oor die vermoë om met die bestes in die wêreld saam te gesels.”

Skotland-groep: Ewan Ashman, Josh Bayliss, Jamie Bhatti, Dave Cherry, Andy Christie, Luke Crosbie, Scott Cummings, Jack Dempsey, Matt Fagerson, Zander Fagerson, Grant Gilchrist, Jonny Gray, Richie Gray, Nick Haining, WP Nel, Jamie Ritchie (kaptein), Pierre Schoeman, Sam Skinner, Rory Sutherland, George Turner, Murphy Walker, Hamish Watson, Mark Bennett, Darcy Graham, Chris Harris, Adam Hastings, Stuart Hogg, George Horne, Damian Hoyland, Blair Kinghorn, Stafford McDowall, Rufus McLean, Ali Price, Cameron Redpath, Ollie Smith, Kyle Steyn, Ross Thompson, Sione Tuipulotu, Duhan van der Merwe en Ben White.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.