Duikslae, losskrums is soos brood en botter deel van rugby

Argieffoto (Foto: The Beijinger)

Wanneer iemand soos die oud-All Black-flank en –kaptein Ian Kirkpatrick oor rugby praat, kan almal maar gerus daarna luister.

Kirkpatrick, een van die harde manne van wêreldrugby, het sy eersterangse buiging op 20-jarige ouderdom gemaak en skaars ‘n jaar later het hy in sy eerste van 39 toetse gespeel, waarin hy in nege van hulle die kaptein tussen 1972 en 1975 was.

Hy het 16 toetsdrieë gedruk en was die alleenhouer van dié Nieu-Seelandse rekord voordat die vleuel Stu Wilson dit in 1983 verbeter het.

Kirkpatrick was in die All Black-toerspanne wat in 1970 en 1976 in Suid-Afrika getoer en was ook die afrigter/bestuurder van die Nieu-Seelandse Kavaliers, wat in 1986 deur Suid-Afrika getoer het.

Kirkpatrick het in 289 eersterangse wedstryde gespeel en het 115 drieë gedruk.

Kirkpatrick was baie gelukkig dat hy feitlik deur sy hele loopbaan beseringsvry was. Maar ‘n week of wat gelede het hy gewaarsku en gemaan dat hedendaagse rugby gans te fisiek is, dat die spelers se lywe dit nie sal hou nie, dat hulle oor ‘n paar jaar die ernstige letsels van voet- knie-, arm-, rug- skouer- en nekbeserings gaan dra.

Daar word te veel by losskrums ingedons, spelers word te veel uitgehaal, daar is te veel duikslae.

Kirkpatrick is heeltemal reg, maar hoe dan anders met die huidige mededinging en geld en prestige wat op die spel is?

Al hoe dit gaan verander, is om raakrugby te speel, en dit wil niemand ooit hê nie, behalwe om fiks te word.

Maar dink maar hoe iemand soos Josh van der Flier, die flank van Leinster, moes gevoel het toe hy vroeër vanjaar ‘n nuwe duikslagrekord van 34 duikslae in die Pro14-reeks opgestel het in ‘n wedstryd teen Connacht.

Van der Flier het boonop nie een duikslag verbrou nie en sy span moes 28 opeenvolgende fases in die laaste drie minute stuit.

Dink maar hoe die Franse haker Guilhem Guirado moes gevoel het toe hy in 2018 31 keer teen Ierland moes duik. Die Franse het juis in dié Sesnasiestoets 253 keer suksesvol geduik.

Dink maar hoe Pieter-Steph du Toit en talle ander Bokke se lywe na ‘n toets moet voel?

Dink ook maar daaraan hoe plettervatters soos Joggie Jansen en Chum Ochse jare moes voel.

Wat van Butch James, Japie Mulder en Henry Honiball?

Maar is daar antwoorde?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Ek glo Ryk van Schoor was ‘n groter plettervatter as Chum Ochse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.