Duitsland kies 12 uit SA vir Wêreldbeker-stryd

Duitsland het nie minder nie as twaalf spelers uit Suid-Afrika ingesluit in sy groep vir die Wêreldbeker-heruitdun wat Sondag oor ʼn week in Marseille, Frankryk, afskop.

Kanada, Kenia en Hongkong neem saam met die Swart Arende, soos die Duitse span voortaan bekend sal staan, aan die toernooi deel. Dit sal die laaste deelnemer aan aanstaande jaar se toernooi om die Webb Ellis-beker in Japan bepaal.

Hongkong is die Duitsers se eerste teenstander.

Die 36-jarige Michael Poppmeier (24 toetse), ʼn gewese Duitse kaptein, is terug in die span nadat hy nog nie vanjaar toetsrugby gespeel het nie, en Kurt Haupt (haker) is ʼn nuweling in die groep.

Poppmeier het voorheen die klub Valsbaai in die Westelike Provinsie aangevoer, en Haupt het Curriebeker-rugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel.

Dasch Barber (nege toetse), ʼn haker wat ook vir Valsbaai gespeel het, het herstel van ʼn gebreekte hand, en is ook terug in die groep.

Al die losvoorspelers is Suid-Afrikaners: Jarrid Els (18 toetse), Sebastian Ferreira (twaalf toetse), Marcel Henn (vyf toetse), Jaco Otto (20 toetse) en Ayron Schramm (drie toetse).

Els het Curriebeker-rugby vir Grens gespeel; Ferreira Superrugby vir die Kings; Henn Varsitybeker-rugby vir die NWU Pukke, Otto (Duitsland se voorste driedrukker in toetsrugby) vir die Sharks op o. 21-vlak, en Schramm vir die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker.

Die veelsydige agterspeler Raynor Parkinson (32 toetse), wat die rekord vir die meeste toetspunte vir Duitsland hou, is ook in die groep ingesluit. Hy het op sy dag vir die Universiteit van Johannesburg uitgedraf.

Drie van die driekwarte – Wynston Cameron-Dow (vier toetse), Marcel Coetzee (14 toetse) en Nikola Klewinghaus (vier toetse) – is uit Suid-Afrika.

Al drie is gewese KwaZulu-Natallers. Coetzee het vir die bond se o. 21-span gespeel, Cameron-Dow is ʼn produk van Durban High School en Klewinghaus van Hillcrest High School.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.