Duitsland met sterk SA bande wil grote kelder

Kobus Potgieter

Kobus Potgieter

‘n Stewige inspuiting Suid-Afrikaanse bloed onderlê Duitsland se strewe om vanjaar teen van die groter kanonne in die Europese Kampioenskap te verras.

Dis die Europese internasionale reeks net onder die Sesnasies in status.

Kobus Potgieter, ‘n oud-Tukkie wat die Duitse nasionale span afrig, het uit Heidelberg aan Pale Toe! gesê die span se mikpunt is eerstens om minstens sy tuiswedstryde teen België en Spanje te wen, en dan soveel moontlik punte teen Roemenië en Rusland te kry.

“Dalk kan ons een van hulle verras.”

Duitsland se eerste wedstryd is 11 Februarie teen Roemenië in Offenbach en ‘n week later pak hy Georgië, die heersende kampioen, in sy hoofstad, Tbilisi.

Potgieter sê dusver gaan dit voor die wind met die span se voorbereiding.

“Ons het ‘n goeie groep wat die week voor die toets teen Roemenië in Heidelberg begin voorberei, en het nie regtig beserings nie. Ons is dus positief ingestel vir die volgende paar wedstryde.”

Hy sê die eerste twee wedstryde teen Roemenië en Georgië is “lekker groot uitdagings” en Duitsland sien daarna uit.

“Ons wil verbeter op ons jongste vertonings verlede jaar teen hulle. Ons het nie baie tyd saam voor die wedstryde nie, maar die November-toetse het ons ‘n goeie tyd gebied om saam te groei. Al die spelers het reeds ‘n idee van wat ons wil doen en hoe ons dit wil regkry.”

Van die Suid-Afrikaners wat verlede jaar in die groep was, is net Adriaan Theisinger verlore. Dié gewese Vodacombeker-speler van die Vrystaat sukkel met ‘n kniebesering en dit was in November reeds duidelik dat hy nie vanjaar vir die reeks beskikbaar sal wees nie.

Michael Poppmeier (Foto: Tobias Keil)

Michael Poppmeier (Foto: Tobias Keil)

Dasch Barber (haker), Michael Poppmeier (slot), Jaco Otto, Jarrid Els, Sebastian Ferreira (losvoorspelers), Raynor Parkinson (heelagter of losskakel) en Marcel Coetzee (driekwart) is almal fiks.

Barber was vanjaar een van die Westelike Provinsie se klubkampioen, Valsbaai, se uitblinkers in die internasionale reeks om die Goue Beker, en Poppmeier, wat Duitsland aanvoer, is ‘n gewese kaptein van die Baai.

Otto, ‘n gewese o.21-speler van die Sharks, was verlede seisoen Duitsland se voorste driedrukker. Hy het 11 drieë in sy tien toetse dusver gedruk. Dit sluit ‘n driekuns teen Portugal en twee tweekunste teen Brasilië in.

Els het Curriebekerrugby vir Grens gespeel, en Ferreira vir die OP Kings. Parkinson het vir die Universiteit van Johannesburg gespeel, en Coetzee vir die Sharks se o.19-span.

Paul Bosch (senter), wat Superrugby vir die Stormers gespeel het, het ná verlede jaar se Europese reeks sy stewels opgehang.
Potgieter vind dit ongelukkig omdat Bosch ‘n groot invloed op die span se verbetering gehad het.

Hendrik van der Merwe, Duitsland se Bloemfonteins-gebore vleuel, het rugby voorlopig opsy geskuif om hom op sy beroep toe te spits, maar Potgieter hoop hy sal aanstaande seisoen weer kan speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.